Page 2 - flipbook Korrels 1-2025 Somer uitgawe
P. 2

Die drie Belydenisskrifte van die NG kerk (oftewel die Formulier van
      Eenheid) is die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse
      Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Daarmee saam het die NG
      Kerk ook drie Ekumeniese Geloofsbelydenisse naamlik die Aposto-
      liese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Athanasius en die
      Geloofsbelydenis van Nicea.

       Geloofsbelydenisse is vir my kosbaar: Of dit nou hierdie formele
      belydenisse is; kort belydenisse soos die een in Filippense (“Jesus
      Christus is Here”); mooi belydenisse wat gesê word op begrafnisse
      soos Psalm 23 of sommer maar net die kort uitroep van die kinders
      by Ligdraers: “Ek glo in Jesus!” is. Geloofsbelydenisse help ons om
      ons geloof te verwoord.

       Dikwels wanneer ons probeer om ons geloof in God te verduidelik,
      is ons woorde te min. Ons eie gedagte- en hartstaal is dikwels
      onduidelik, selfs vir onsself. Partykeer sê ons baie oor God sonder
      om te verstaan wat ons sê óf sonder om die Een te erken oor Wie
      ons praat. Ons beperking in taal lei tot ‘n beperking in ons verstaan,
      want God is groter as die taal wat ons gebruik om God mee te
      beskryf. Daarom is geloofsbelydenisse belangrik.

       Op verskillende plekke in die Bybel vind ons reeds spore van
      kernagtige belydenisformules soos in 1 Korintiërs 15:3-4 (die kern
      van ons geloof in Christus), asook belydenisse wat die Triniteit bely,
      soos in 1 Korintiërs 12:4-6. Wanneer ons hierdie belydenisse sê
      gebeur daar eintlik twee dinge: (1) Ek antwoord op God se bestaan
      en; (2) ek getuig in die publiek teenoor ander en die hele wêreld
      waarin ek glo! Op hierdie manier kan almal hoor wat die grond is
      waaruit ek lééf:
       Ons glo dat die Bybel die Woord van God is.
       Ons glo dat God, die Vader, die Skepper van hemel en aarde is.
       Ons glo dat die Here Jesus Christus vir my sondes gesterf het,
       en dat Hy uit die dood opgestaan het; ons het Hom lief.
       Ons glo dat die Heilige Gees in ons woon en ons lewens nuut maak.

      Amen!
      Ds. Lerisa Meyer

                                          2
   1   2   3   4   5   6   7