Page 2 - Korrels 4-2024 Lente uitgawe
P. 2
Ons sien deesdae gereeld wedlope, siende dat
die Olimpiese Spele aan die gang is. Iemand
wat aan ʼn wedloop deelneem, is ʼn pragtige
voorbeeld van volharding en fokus.
In Hebreërs 12:1-2 lees ons van ʼn besonderse
metaforiese wedloop: “Daarom, terwyl ons ook
so 'n groot wolk getuies rondom ons het, laat
ons van elke las ontslae raak, van die sonde
wat ons so maklik omring, en die wedloop wat
vir ons voorlê, met volharding hardloop, die
oog gerig op Jesus, die Leidsman
en Voleinder van die geloof…”
Die metafoor van ʼn wedloop herinner ons as gelowiges daaraan
dat ons met volharding en fokus moet lewe. Ons kan nie halfpad ver-
veeld raak en fokus verloor nie, selfs al voel die pad lank. Verplig-
tinge, bekommernisse, en selfs teleurstellings kan ons moedeloos
maak. Dikwels voel dit asof ons nie genoeg krag het om aan te hou
hardloop nie. Hierdie wedloop gaan egter nie oor ons krag nie. Dit
gaan ons oor vertroue op God. Dit is die volharding waarmee ons die
lewe aanpak. Ons vertroue op God is wat maak dat ons nie moed of
fokus verloor nie.
Daarom is daar vir my ook ʼn oproep om mekaar moed in te praat
soos die wolk van getuies. Dit verwys na Hebreërs 11 se geloofsvoor-
beelde, maar ek dink tog dat ons ook vir mekaar lewende getuies van
vertroue op God kan wees. Wanneer ons met mekaar deel hoe God
ons help en sterk maak, praat ons mekaar moed in en bly ons gefo-
kus. Dit herinner my aan die Olimpiese Spele-atleet, Derek Redmond,
wat in 1992 aan die 400-meter semifinaal deelgeneem het. Hy het sy
dyspier geskeur en hard neergeval. Sy pa het na hom toe gehardloop
om hom van die baan af te help, maar Derek wou nie opgee nie. Hy
het op sy pa gesteun en so het die twee tree-vir-tree die wedloop vol-
tooi terwyl die skare hulle luid aangemoedig het.
Ons kan mekaar moed inpraat. Jesus Christus het ons immers
kom leer dat ons almal deel is van God se genade. Hy het nooit afge-
draai van Sy verkondiging en uitleef van God se Koninkryk nie, nie
eens toe Hy gekruisig is nie. Om ʼn dissipel van Jesus te wees bete-
ken nie dat alles altyd maklik gaan wees of presies soos ons dit wil hê
nie. Maar ons kan met moed en sekerheid leef omdat ons weet op
wie ons vertrou.
Ds. Lerisa Meyer
2