Page 38 - Korrels Winter uitgawe 3-2025
P. 38
LEEF TOT EER VAN CHRISTUS MET HOOP
Die NGK in KZN se jaartema is: IN CHRISTUS
ONS VREUGDE. Ons as gemeente het ʼn eie
jaartema: ‘Leef tot eer van Christus’. Vir elke
kwartaal het ons aparte temas. In ons kerkgebou
word die 4 kwartaal-temas pragtig uitgebeeld.
Ons Wintertema is HOOP - In Christus - ons HOOP.
Mag ek maar ʼn pragtige storie van Hoop binne ons gemeente hier
vertel? So 10 jaar gelede, in Februarie 2015, besoek die predikant in
sinodale diens, ds. Gerhard Botha, ons gemeente. Hy kom praat oor
die Diens van Barmhartigheid (sy opdragterrein). Regoor KZN word
Diens van Barmhartigheid streekswerkswinkels gereël onder die
tema: HOOP. Hy vra of ons ook iets kan reël.
Na lang beplanning onder leiding van dr. Mike en ds. Botha word ʼn
‘Stories van HOOP’- werkswinkel aangebied vir die Suidkus op
Saterdag, 13 Februarie 2016. Dit oorspan geloofsgrense. Sowat 17
sprekers uit die breë gemeenskap tree op - van onderwysers en
gemeenskapsorganisasies tot die plaaslike SPCA. Selfs ’n bestuurs-
lid van swart skole se rugbyprogram het getuig van hul werk om jong-
mense deur sport met lewenswaardes te bemagtig. Raadslid Ronnie
Nair, destyds onder-burgemeester, was ook teenwoordig. Verskeie
leiers van projekte van HOOP het hulle werk gedeel en mekaar leer
ken en waardeer.
Nes ʼn diamant het HOOP baie fasette. Hierdie stukkie uit ons
gemeentegeskiedenis vertel maar van een faset van Hoop. Hier
funksioneer HOOP as die skep van nuwe lewensruimte vir die ‘mens
wat bystand nodig het’ - ons hoor die woorde van ons Here Jesus
Christus: ‘Vir sover julle dit vir een van die geringstes gedoen het, het
julle dit vir my gedoen.’ (Matt 25 v 40).
Elke gelowige se uitreik bring Hoop vir iemand aan die Suidkus. Hoop
reik vanuit Christus uit en bring... HOOP.
Van huis tot huis: met HOOP
Piet Beukes
38