Page 33 - Korrels Winter uitgawe 3-2025
P. 33
“KYK! LET OP!”
Lees Matteus 6:25:34
“Kyk na die wilde voëls . . .
Let op hoe groei die veldlelies . . .”
(v 26, 28)
Die groot probleem met bekommernisse is dat dit yslike tydmors is.
Jesus vra tereg of enigiemand se kommer sy of haar lewe met ʼn
enkele uur kan verleng.
Die teendeel is eerder waar: Bekommernisse maak ons mettertyd
siek, letterlik so. En as ons soveel tyd daaraan wy om ons te
bekommer, gaan die lewe by ons verby. Wat het ons om daarvoor te
wys? Doktersrekeninge?
Kommer beperk ook Jesusvolgelinge se sig. Het jy al gewonder
waarom Jesus hier met sy vinger beduie en sê: “Kyk” en: “Let op”?
Hy vind dit nodig om sy bekommerde dissipels, wie se fokus tog so
na binne gerig is, te help om hul kop op te lig. Sodat hulle om hulle
kan kyk, weg van hulleself. Sodat hul oë oopgaan vir ʼn wêreld waar
kommer nie ʼn rol speel nie. Sodat hulle ʼn ander manier raaksien om
dié lewe te leef.
Sal die bekommerdes ooit snap dat God sorg? Dat sy Naam
Voorsienigheid is omdat Hy verder kyk?
Dan sal sy kinders tot rus kom. Dalk sal hulle leer om die dinge
waaroor hulle so bekommerd is aan Hom oor te laat. Omdat Hy wat
die voëltjies voer en die veldblomme aantrek weet, wat om met
daardie kommer te doen.
En dalk gebeur dié wonder: Jesusvolgelinge leer om entoesiasties
te leef, om opgewonde uit te sien, om te bly hoop.
U weet hoe swaar dra ek aan alles wat my bekommer. Hoe my
vrese my skouers krom maak en my bene lam. Hoe ek my lag verloor
het en soveel van my hoop prysgegee het. En hoe dié emosies almal
om my beïnvloed, juis hulle wat die naaste aan my is. Sal U my van
hierdie doodsbestaan verlos? Maak my lewe lig, Here!
Barend Vos
Uit die Beek 2025 – 21 Maart 2025
Lux Verbi
33