Page 37 - Korrels Winter uitgawe 3-2025
P. 37

VOËLKYKERS IS TOE NIE SO “WEIRD” NIE!

        “Kyk na die wilde voëls: Hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie
       in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie
                        meer werd as hulle nie?” Matteus 6:26
      Ek is en was nog nooit ʼn voëlkyker nie. Tog val die helfte van my familie
      onder die kategorie van “voëlkykers”. In my eie denke bly dit ʼn spesie van
      die mensdom wat aan die weird kant is, want indien daar êrens heen gery
      moet word, moet die verkyker en voëlboek eerste ingepak word . . .

       Daarom bly dit vreemd dat wanneer Jesus oor ʼn lewe in God se
      Koninkryk (Matteus 6:33) praat, Hy sy volgelinge oproep om na wilde voëls
      te kyk. Jesus sê: “Kyk na die wilde voëls: Hulle saai nie en hulle oes nie en
      hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is
      julle nie baie meer werd as hulle nie?” (Matteus 6:26) Die woordjie “kyk”
      kom meer as 1300 keer in die Bybel voor. Die meeste Engelse vertalings
      van die Bybel gebruik die woord “behold”. ʼn Goeie sinoniem vir “kyk” sou
      dus ook kon wees “om te aanskou”. Om te aanskou dui op ʼn dieper kyk of
      ʼn aanhou-kyk. Dit is om te kyk met intensie en verwagting. Dit is ʼn
      verwagting dat, as ek aanhou kyk, ek iets kan “sien” van dit waarvan ek nie
      nou bewus is nie. Wat behoort ek raak te sien en waarvan moet ek bewus
      raak?

       Jesus wil hê dat ons na die wilde voëls moet kyk sodat ons op ʼn dieper
      vlak ʼn konneksie kan maak tussen ʼn wilde voël en ons hemelse Vader.
      Ons hemelse Vader is ook wilde voëls se hemelse Vader wat vandag vir
      hulle gee wat hulle nodig het. Hý sorg vir hulle. Indien jy dit kan insien, sal
      jy ook bewus raak van ons hemelse Vader wat altyd vir jou sorg, want
      “Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.”
      (Matteus 6:26)

       Voëlkykers is toe nie so weird nie, want deur na
      wilde voëls te kyk, word ons gehelp om in God se
      Koninkryk te lewe en saam met God te leef, wat
      daagliks vir jou sorg. Daarom lig Jesus ʼn
      lewe vry van bekommernis uit as ʼn
      uitstaande kenmerk van ʼn lewe saam
      en in diens van God en sy Koninkryk.
      (Matteus 6:34).
      Dr. Johan Kruger
      ʼn Laaste Gedagte - Oktober 12, 2023
      https://www.ngkerkvrystaat.co.za/voelkykers-is-toe-nie-so-weird-nie/

                                          37
   32   33   34   35   36   37   38   39   40