Page 32 - Korrels Winter uitgawe 3-2025
P. 32

HOOP WAT STERKER WORD

                     Mag God, die bron van hoop, julle geloof
                met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop
           al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
                                     Rom. 15:13
      In die feesmaand (nou pas verby en elke dag) anker ons graag ons
      feesvreugde in die wete dat die Kind van Bethlehem vir óns gebore
      is; Hy is die vervulling van God se belofte van redding vir ʼn verlore-
      gaande wêreld, vir sondaarmense van wie ek die vernaamste is!
      Watter heerlike versekering is dit nie?  Maar in die feestyd, kyk ons
      vorentoe. Dit gaan oor meer as vervulde hoop; dit gaan oor verwag-
      tings wat nog in vervulling moet gaan. Ons is mense met ʼn toekoms;
      die Kind moet wéér kom; daar is ʼn ewige lewe waarna ons uitsien. By
      die kruis is daar nie ʼn punt agter Jesus se Naam aangebring nie. Sy
      opstanding en hemelvaart het ʼn nuwe hoofstuk van die lewe oopge-
      maak en dit is die rede waarom ons hoop.

       Bybelse hoop is al weer anders as die manier waarop die wêreld
      hoop. Ons hoop nie sommer net vaagweg vir die beste nie. Ons hoop
      om iets in ontvangs te neem wat reeds aan ons toegesê is. Hoop is
      om vooruit te sien na die dag wanneer ons dit in ontvangs gaan
      neem. Ons hoop is in God geanker... en daarom het hoop met geloof
      te make. Al hét ons dit alreeds, sien ons dit nog nie.  Ons sien daarna
      uit, maar ons geloof het nog nie tot aanskoue oorgegaan nie. Want
      ons vertrou God, die Bron van hoop, dat Hy aan sy beloftes getrou
      sal bly. Ons feesvreugde bly nie by Bethlehem agter nie. Ons gaan
      die toekoms in met ʼn hart vol vreugde en vrede omdat ons met ver-
      troue hoop op die toekoms wat God vir ons beloof het; wat Jesus vir
      ons verdien het en wat die Gees in ons hart bevestig!

                                 Dankie, Here, dat ek
                    met vreugde en vrede in my hart kan hoop.
                                         Amen.
      Luisterwoorde, 25 Desember
      Johan Smit
      LUX VERBI.BM
                                          32
   27   28   29   30   31   32   33   34   35   36   37