Page 39 - Korrels 2-2024 Herfs uitgawe
P. 39

’n LAASTE  WOORDJIE  -  Elda Pretorius

                              Die wondergawe van God
         Soos verlede Kersfees, word ek vir tien dae in gees en liggaam opgelig en
      weggedra na ʼn belewenis in die wonderwêreld van ‘n wildsplaas. Mens kan
      nie anders as om te dink dat die skrywer van Genesis moes mank gegaan het
      aan genoeg woorde om net te skryf: ―God het na alles gekyk wat Hy gemaak
      het, en kyk, dit was baie goed.‖  (Gen. 1:31) Regtig, net ‗baie goed‘?
         Elke boom en bos, groot en klein, was getooi in baie jong somersdrag,
      anders as verlede jaar,  weens die dorheid van ʼn uitmergelende droogte en
      somerhitte die afgelope jaar. Die bome het onlangs eers begin bot. Daar is
      verskeidenheid in grootte, vorm en kleur, volgens die behoefte van elke dier
      wat hul gaan voed.  Dis nie net ʼn groen prentjie nie, want waar die strale die
      jong blaartjies vasvang, skitter dit sonkant toe soos silwer sterretjies en laat-
      middag soos goud - ʼn prentjie wat jou siel verryk.
         Grond toe is dit ʼn ander prentjie - net droë grond. Op verskeie punte lê
      groot ronde bale hooi wat in reuse vragte van baie ver aangery moes word
      om die diere aan die lewe te hou. Voor die jong blare hulle verskyning ge-
      maak het, moes die bokke ook van vragte hawer voorsien word. Nogtans lê
      daar hier en daar ʼn karkas waarskynlik van ʼn ouer en swakker dier, wat net
      nie kon oorleef nie. Selfs nou was daar soms ʼn swerm voëls, daar ver bo in
      die lug, waar hulle sirkel om ʼn karkas te gaan skoonmaak.
         Verlede jaar het dit gewemel van die dierbaarste, klein pasgebore en jong
      bokkies van elke soort. Baie min ooie en koeie kon die keer spog met hulle
      werpsels. Anders as die mens, wag die diere vir positiewe omstandighede in
      die natuur voor hulle verlos.
         Die vier natuurlike panne op die plaas en die krippe moes in afwesigheid
      van reën, van water voorsien word. Dit is met dankbaarheid wat mens die
      teenwoordigheid van sonpanele in die bos verskoon. Krag moes voorsien
      word om water diep onder in die aarde te gaan haal. God het die mens be-
      veel: ―Heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere
      wat op die aarde rondbeweeg.‖ (Gen 1:28) Wat ʼn voorreg was dit om die uit-
      voer daarvan in aksie te sien en te beleef!
         Kersdag was rustig en kalm, iewers tussen êrens en nêrens tydens ʼn prag-
      tige erediens saam met ʼn klein gemeentetjie in ʼn kerk op ʼn plaas. Wat ʼn seën
      om saam met jou kinders, klein- en agterkleinkinders, vriende en medegelowi-
      ges die geboorte van Jesus Christus te herdenk.
         Tweede Kersdag, ons laaste dag, was ʼn dag van vreugde en dankbaar-
      heid en ons kon sê  ―. . . aan God die dank — deur Jesus Christus, ons Here,
      want Hy het sy goeie skatkamer, die hemel, oopgemaak en die reën van die
      land op die regte tyd gegee en die werk van die mense hande geseën‖.

                                Rom.7:25 & Duet 28:12

                                          39
   34   35   36   37   38   39   40