Page 38 - Korrels 2-2024 Herfs uitgawe
P. 38

IN PAS MET CHRISTUS
                       na ʼn NUWE TOEKOMS


                                           Leef om te loof
                         Die Nederlandse teoloog, Arnold Van Ruler, het opge-
                         merk dat dié mens wat God nie prys nie, of dalk verleer
                         het om dit te doen, soos ʼn bees is wat gras vreet en dit
                         herkou, wat bestaan, maar nie lééf nie. Die diepste sin
                         van ons bestaan is om te loof. Gód te loof. Immers, ons
                         is uit genade gered. Nou leef ons om te loof. Ja, wie
                         loof, lééf.
         Natuurlik loof beeste, hoe onbewus ook al, op hulle manier óók God.
      Trouens, die hele skepping is daar om net één rede: om die eer, die heerlik-
      heid van die Here singend te beaam. Die kerkhervormer, Johannes Calvyn,
      het die hele skepping ʼn teater genoem waarin die glorie van God besing
      word.
         Dit sluit letterlik alles in: die massas materie tot in die uithoeke van die
      heelal, die planete, die komete, die son, die maan, die wurmpies, die lewe in
      die see, alles wat kruip en roer en sweef, alles wat asemhaal en leef. Alles
      is daar tot die meerdere eer en glorie van God!
         Ook die mens. Veral die mens. Hy of sy doen dit bewustelik. Juis dit on-
      derskei ons van die diere en die dinge. Die mens is meer as die diere en die
      dinge om ons. In die ryk van die natuur word God spontaan geprys, bloot
      deur hulle bestaan. By die mens is dit egter anders. Ons moet kiés om God
      te loof. Ons sê dit die psalmdigter nadenkend, doelbewus na:
           Loof die Here, o my siel!
           Ek wil die Here loof solank ek leef;
           ek wil my God besing solank ek bestaan (Ps 146:1,2)
         Die mens kan immers die verlossende genade van God ervaar. In ʼn sin
      kan hy beter en mooier as die skepping sing. As ʼn mens van die toekoms is
      hy singende en prysende die skepping vooruit. Met sy woorde en note, met
      sy hele hart sê en sing hy halleluja!
         Ons het die bladmusiek, die Woord; dit gee sin aan ons lied. Die Gees
      van God kom stem ons telkens in, sodat ons weer nootvas en nootvars tot
      sy eer kan sing. Ons doen dit nie sondeloos nie; as verloste sondaars in
      hierdie onvolmaakte bedeling prys ons God vir sy grenslose genade. En so,
      te midde van al die wanklanke, gestroop van alle aardse sekuriteite in en
      om ons, doen ons mee aan die simfonie tot eer van God.
                        Wat ʼn genade om juis dìt te mag doen.

                                     Seënwense,
                               Dr. Dawie Oosthuysen.
                                          38
   33   34   35   36   37   38   39   40