Page 8 - C:\Users\ELDA\AppData\Local\Temp\mso34C3.tmp
P. 8
BRIEFIES
FEESBOODSKAP
Die Human familie se verbintenis met die NG Gemeente Margate het
ontstaan uit die diep hartseer van my ouers, Barnie en Swanie Hu-
man na die dood van my broer, Callie in 1967. Dit was vir my ouers ʼn
ongelooflike voorreg om deel te wees van die ontstaan van hierdie
gemeente, en hulle was hulle hele lewe lank baie trots op hulle spesi-
ale verbintenis met hierdie kerk. Ds. Jakkie Swanepoel, ʼn groot
vriend van die Humans, het hulle eenkeer met ʼn tuin vergelyk en ge-
sê:
“Dit is twee mense wat die wintertuin van seer ken, maar
nie daarin bly sit het nie. Hulle het deurgestap en kon deurstap
omdat die aalwyn juis in die winter blom, en hy blom sy blomme
rooi, en ook die litroos wat onverwags sy eie mooi kom gee.
Hulle het vanweë hulle geloof in God geweet dat die lente kom,
dat in die sagte loot van hoop die lewe lê van ʼn vol seisoen
waar alles ingekleur staan in God se somertuin. Alles wissel.
Tye verander. Maar in die wegvloei van jare het hulle dieselfde
gebly, soos 'n warme handdruk in die herfs - vol liefde, vrede,
vreugde, vriendelikheid en ʼn glimlag van dankbaarheid.”
Vir ons familie is die kerk ʼn monument van my ouers se kosbare
nagedagtenis en ʼn simbool van hoop. Dit is vir ons die bevestiging
van God se alomteenwoordigheid in ons lewe, selfs in moeilike en
donker tye. Ek en my kinders bid dat dié gemeente wat uit dankbaar-
heid teenoor die Here ontstaan het, altyd die blye boodskap van ver-
lossing sal uitdra. Ons bid dat elke gemeentelid en elke vakansiegan-
ger God se liefde hier sal ervaar.
Ons wens vir die gemeente is dat julle ook in elke seisoen God
se hand en teenwoordigheid sal ervaar. Baie geluk met vyftig goue
jare! Mag God steeds die NG Gemeente Margate in oorvloed seën!
Christa Strydom (néé Human)
8