Page 14 - Korrels Winter uitgawe 3-2025
P. 14
LEEF TOT EER VAN GOD MET HOOP!
“Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry;
volhard in die gebed.”
Romeine 12:12
Welkom by die tweede helfte van die jaar!
Hierdie kwartaal fokus ons op wat dit beteken om te leef met hoop,
selfs wanneer dit moeilik raak. Hoop is daardie lig wat selfs in die
donkerste tye bly skyn. Ons gebruik steeds die boom as metafoor.
In die eerste kwartaal het ons op die grond gefokus - ons geloof. In
die tweede kwartaal het ons die eerste blomme begin raaksien - die
liefde. Maar nou is dit winter. Gedurende die winter verloor ‘n boom
sy blare. As ons net na die boom kyk, kan dit vaal en dood voorkom.
Tog, as ons verder kyk - op die horison - sien ons dat die son steeds
opkom.
Hoop is nie iets wat jy altyd dadelik sien nie. Veral nie wanneer jy
vaskyk op swaarkry of teleurstelling, soos ’n perd met oogklappe op
nie. En tog is hoop altyd teenwoordig. Selfs al is dit nie onmiddellik
sigbaar nie, leef dit aan - diep in ons wese.
Wanneer die koue dae aanbreek en die boom kaal staan, lyk dit of
die lewe uit hom verdwyn het. Maar ons weet: die boom is nie dood
nie - dit rus, dit wag, dit hoop. Só is ons ook soms in seisoene van
afwagting en stilte. Dit is nie maklik nie, maar dit is juis in hierdie tye
dat hoop ons anker is.
Paulus se woorde bemoedig ons: “Verbly julle in die hoop.” Ons kán
bly wees. Ons hoef nie moed te verloor nie, want God is by ons.
Ons hoop is geanker in Jesus Christus, en die Heilige Gees leef
en werk in ons. Deur dié krag kan ons aanhou hoop, aanhou bid, en
ander bemoedig.
14