Page 32 - C:\Users\ELDA\AppData\Local\Temp\mso34C3.tmp
P. 32
Gebruik jou gawes reg
Lees 1 Petrus 4:11.
As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom
aan die woord kom . . . (v 11)
In enige spansport soos rugby, netbal of krieket het spelers mekaar
nodig. Elke speler moet sy of haar kant bring. Dieselfde beginsel geld
vir gelowiges, want Christenskap is ook ’n “spansport”. Christene is
deel van God se splinternuwe familie hier op aarde. Ons almal saam
vorm die liggaam van Christus, maar elkeen het verskillende genade-
gawes van die Here ontvang om mekaar mee te dien. Daarom het
ons mekaar nodig. Nie een van ons kan sonder die ander klaarkom
nie. Ons het elkeen ’n bepaalde plekkie gekry wat ons hier op aarde
vir die Here moet vol staan.
Ons kan nie alles alleen vir die Here doen nie. Almal kan nie
preek, onderrig of leiding neem nie. Party van ons kan wel een of
twee van hierdie dinge doen. Dan moet ons dit met oorgawe doen tot
voordeel van mekaar. Ons moet ons gawes tot eer van God gebruik
en ons moet mekaar met ons verskillende hemelse gawes dien. Ons
moet mekaar se geloof opbou. Eers wanneer ons mekaar se geloof
op verskillende maniere versterk en mekaar help om die Here se weg
te volg, word Christenskap regtig ’n “spansport”. Dan maak dit op die
regte plekke ’n verskil.
Here, dankie dat U u kinders oorlaai met gawes.
Laat ons dit tot voordeel van mekaar gebruik.
Stephan Joubert
Boodskap vir Vandag inspirasie@boodskapvirvandag.co.za 2024-05-15
Hemelse Vader, ons bring U eer
Christus, Verlosser, ons bring U eer –
U daal uit liefde as Middelaar neer.
U gee u lewe; U maak ons vry.
Dankbaar kom ons nou onsself aan U wy.
Dankbaar kom ons nou onsself aan U wy.
Lied 451:2 — Liedboek van die kerk
32