Page 27 - flipbook Korrels 1-2025 Somer uitgawe
P. 27

DIE EINDE, MAAR NUWE BEGIN
      As gelowiges volg ons lewensverhale ‘n kronkelpad en draai soms
      heeltemal anders uit as wat ons verwag het. Soms begin ons op ʼn
      bekende pad, maar soms is die bestemming onbekend. Ek dink ook
      oor my lewensreis aan die universiteit.  My studies is voltooi en my
      lewenspad skiet skielik ʼn ander koers in. Ek is beide dankbaar en
      onseker, oorweldig en vervuld, maar meeste van alles geanker in die
      Here met vrede in my hart.

       Weet jy hoe jou pad gaan uitdraai of ervaar jy vrees oor die pad wat
      jy stap? 1 Korintiërs 13:12 sê: “Nou sien ons deur  ʼn spieël in ʼn
      raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten
      dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek (deur God) ten
      volle geken is.” Ons lewenspaaie maak soms eers later sin maar God
      vra  ons net om sy hand te vat en saam te stap.
        Vandag is ʼn oomblik waar ek terugkyk na die afgelope sewe jaar
      van studie en is dankbaar vir die hartseer, die vreugde, die
      voorspelbare en onvoorspelbare paaie met die wete dat ek presies is
      waar ek moet wees. Die terugblik laat my nie in die verlede stilstaan
      nie, maar gee my moed om  selfversekerd die volgende lewens-
      hoofstuk aan te pak met my hand in die Here se hand. Vir ʼn oomblik
      staan ek eers stil en stap dan vorentoe. Saam steek ons die wenpaal
      oor en die afgelope reis kom tot ʼn einde.
       Hills and Horizons sing: “Everything feels so different now, maybe I
      wasn’t meant to understand all the hills and horizons I’ve seen over
      and over again. We don’t get to see the whole picture (or) see the
      whole thing, (only) a glimpse of the moment, promise, future, not the
      in-between … I know I need to let go so I will hold on to you.”
       Dalk is jy vandag  aan die einde van ʼn lang pad of begin van ʼn nuwe
      pad.  Maak nie saak hoe onseker jy is nie, sit jou hand in die Here sʼn
      en jy sal met  ʼn huppel in jou stap die wedloop voltooi. Onthou vir elke
      einde is daar ʼn nuwe begin wat vir jou wag. Skep nuwe moed, vertrou
      die Here, voltooi die wedloop in afwagting van wat Hy in jou lewe
      gaan doen as jy Hom met alles in jou vertrou.
      Liefde,
      Chrizaan

                                          27
   22   23   24   25   26   27   28   29   30   31   32