Page 31 - flipbook Korrels 1-2025 Somer uitgawe
P. 31

GELOOF WAT DEUR DIE VUUR SAL STAP ...

                               Lees Genesis 39:19-21.

            Terwyl Josef … in die tronk was, was die Here by hom (v 20-21).

      Josef se nuwe lewe in Egipte het spoedig ’n drastiese wending ge-
      neem toe hy die slaaf van ’n hooggeplaaste Egiptenaar, Potifar, ge-
      word het. Maar o wee, mevrou Potifar kon haar hande nie van Josef
      afhou nie. Die uiteinde? ’n Skandaal en ’n klag van poging tot verkrag-
      ting teen Josef. En tronkstraf vir hom! Dit alles omdat Josef geweier
      het om toe te gee aan ’n oomblik van vleeslike plesier. Hy was bereid
      om selfs tronk toe te gaan vir sy beginsels. Wat ’n duur prys om te
      betaal!

       Mense wat bereid is om groot offers te bring vir hulle geloof, soos
      om hulle werk te verloor, of om ter wille van die waarheid tronk toe te
      gaan, weet waardeur Josef moes gaan. Maar God verlaat nooit sy
      mense in hulle donkerste uur nie. Inteendeel. Selfs daar in die tronk
      was die Here by Josef. Hy het hom so geseën dat die tronk kort voor
      lank in ’n plek van seën verander het. Almal wat met Josef te doene
      gekry het, het geweet: Dit is ’n spesiale man hierdie. Nee, hier is
      iemand wat in pas loop met sy God!

       As dit vir jou tans moeilik is om vas te hou aan die Here, moet jy
      asseblief tog nie nou tou opgooi nie. Byt vas. Bly op jou pos. Staan
      sterk. God sal jou nie deur sy vingers laat glip nie. Hy sal jou versterk
      en jou met sy genade staande hou. Hou maar net onverskrokke vas
      aan sy goedheid. Veral vandag!

      Here, leer my om altyd aan U getrou te bly.

      Stephan Joubert
      https://boodskapvirvandag.co.za
      2024-09-01



                                          31
   26   27   28   29   30   31   32   33   34   35   36