Page 33 - flipbook Korrels 1-2025 Somer uitgawe
P. 33

STRY SAAM VIR DIE GELOOF

                              Lees Romeine 15:30-32.

                    Stry saam met my deur vir my te bid (v 30)

      Geloof is stryd. En stryd vra gebed. Altyd! Sonder
      gebed is daar weinig geestelike krag in die kerk en ook
      weinig oorwinnings op die sendingveld. Paulus het dit
      geweet. Daarom dat hy so dikwels vir gelowiges gevra
      het om vir hom te bid. Want gebed is die sleutel tot die
      Here se krag en genade. Dit ontsluit sy goedheid keer op
      keer.

       Sonder gebed is die kerk magteloos. Sonder gebed
      karring gelowiges maar voort van die een geestelike neerlaag na
      die ander. En van die een vaal dag na ’n ander sonder die nodige
      Goddelike visie. Gebed is die manier waardeur ons met God in
      gesprek bly oor sy kerk en sy koninkryk hier op aarde. En waardeur
      ons groot oorwinnings in sy Naam behaal.

       Dikwels is gebed ook deel van die stryd. Wanneer die bedreigings
      teen God se kinders fel is en ernstige probleme hulle in die gesig
      staar, moet hulle bid. In sulke tye moet gelowiges ingrawe in hulle
      gebedsloopgrawe! Hulle moet bly bid totdat God die sluise van
      genade oor hulle ooptrek.

       Paulus vra gebed van ander vir sy eie pad. En nie sommer sulke
      vinnige gebedjies nie. Nee, gelowiges moet saam met hom stry in die
      gebed. Want sy werk om die evangelie uit te dra, is op die ou end ook
      hulle taak. Daarom moet hulle saamwerk deur te bid. Ons ook. Stry
      vandag hard in gebed ter wille van Christus se kerk.

      Christus, ek pleit dat U u kerk in genade sal aansien.

      Stephan Joubert
      Boodskap vir Vandag
      Inspirasie@boodskapvirvandag.co.za
      2024-09-12




                                          33
   28   29   30   31   32   33   34   35   36   37   38