Page 31 - Korrels 2-2024 Herfs uitgawe
P. 31
Dankbaar vir die kerk van Christus
Julle is die gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die
profete, ʼn gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit
die hele gebou saam en verwys dit tot ʼn heilige tempel vir die Here, in wie
julle ook saam opgebou word as ʼn geestelike huis waarin God woon.
Efesiërs 2 : 20-22
Rots van die eeue, Christus die Here,
ons loof en dank U vir die kerk wat die gemeenskap is wat ons herinner aan
die hoop wat vir ewig by ons woon,
en aan U wat ons deur die eeue bygestaan het;
die ewige getuienis van u teenwoordigheid met en waar U mense vir Uself
opeis. Ons dank U vir die voorreg om getuies te wees vir ons geslag;
vir die waarhede wat die kerk van geslag tot geslag onafgebroke oordra:
dat God deur die kerk die wêreld met Homself wil versoen.
Ons dank U vir die geloof van vorige geslagte wat die kosbare kerk aan ons
oorgedra het – en wat ons weer aan die volgende geslag kan oordra.
Gee dat ons hierdie skat ongeskonde mag oordra
sodat hulle wat ná ons kom
hulself kan bemagtig deur die inspirasie wat hulle uit ons getuienis put.
Ons loof U dat U die kerk aan brose mense toevertrou het en vir die
groothartige mans en vroue wat hulle lewe daarin geanker het.
Dankie vir die skare van gelowige getuies wat ons omring wanneer ons
hier bymekaarkom om U te aanbid:
hulle wat nog leef en hulle wat ons reeds
vooruit gegaan het na die ewige Vaderhuis.
Laat u kerk op aarde van krag tot krag voortgaan.
Gee dat sy getuienis altyd kragtig en onvervals sal wees sodat ons
die wêreld waarin ons leef ten goede kan beïnvloed.
Dankie vir al die lofprysinge, belydenisse, petisies en proklamasies wat
tot U opstyg uit die hart van u gemeente.
Laat u seën en salwing rus op elkeen wat meedoen
aan die opbou van u kerk.
Wees ons genadig, o God, vir die menslike swakhede wat ons begaan:
wanneer dit vir ons om die mens gaan en nie oor u eer nie;
wanneer ons woorde en ons dade mekaar nie sinvol aanvul nie;
wanneer tweedrag en skeuring u kerk skaad en ons getuienis verswak.
Maak van ons diensknegte van die Koning van die kerk
wat sal bydra om sy heerskappy oor die ganse aarde te bevestig.
Amen
Solly Ozrovech, ʼn Lieflike offer aan God, p.84
LUX VERBI.BM
31