Page 32 - Korrels 2-2024 Herfs uitgawe
P. 32
Dankbaarheid
Efesiërs 5:6-20
Dank God die Vader altyd oor alles
in die Naam van
ons Here Jesus Christus.
Efesiërs 5:20
Die lewe is vir baie Christene moeilik en veeleisend. Waarheen hulle
hulle ook al draai, vind hulle net teenkanting en ontmoediging. Dit lyk
altyd of hulle menseverhoudinge deurmekaar is. Niks wat hulle aan-
pak, skyn na bevrediging uit te werk nie.
Ongelukkig het baie Christene die kuns verloor om danksegging te
beoefen. Hulle word so oorweldig deur hulle terugslae en probleme
dat ʼn wolk van terneergedruktheid oor hulle gees en gemoed neer-
daal, sodat hulle weinig kan vind waarvoor hulle God kan dank.
Wanneer ʼn Christen die gawe van danksegging verloor, het hy ʼn
bron van groot inspirasie en geestelike krag verloor wat deur bykans
niks anders vervang kan word nie. Allereers moet jou danksegging
aan God wees omdat Hy jou liefhet en vir jou omgee. Die gedagte
aan God se belangstellende liefde behoort jou te inspireer tot ʼn gees
van opregte dankbaarheid.
Danksegging is ʼn kragtige faktor in jou geestelike lewe. Dit kan
minderwaardigheid met vertroue vervang en die donker wolke van de-
pressie en terneergedruktheid verdryf. Die enigste manier om die krag
van danksegging te bevestig, is om dit elke dag te beoefen. Verhef dit
uit die groef van jou aanbidding op Sondae. Begin elke dag met ʼn op-
regte gebed van waardering aan jou hemelse Vader vir die gawe van
lewe. Jy sal ontdek dat deur dit elke oggend te doen, jy ʼn riglyn vir die
dag sal hê en dat jy op grond daarvan oorwinnend sal lewe.
Elke dankbare gedagte hemelwaarts, is op sigself ʼn gebed.
(Ephraim Lessing)
Solly Ozrovech, By Fonteine van Seën, 1 September
CUM
32