Page 12 - Korrels 1-2024 Jubeljaar uitgawe
P. 12
Die eerste leraar van die gemeente was, kan mens maar sê,
‗gesteel‘ van die moedergemeente deur hom te beroep na Margate.
Ds. Adriaan Smit is ʼn week voor die inwyding ontvang. Tydens die
aanbou van die kerk is dienste gehou in ‘n opgeknapte saaltjie wat
aanvanklik ontdek is op die geskenk-erf, oorgroei met plante, maar
bokant die ingang was die woorde: ―The Kingdom of God‖.
Die kerk was toegerus met ʼn klok wat gereeld gelui is. Een Son-
dagoggend terwyl die klok tydens die erediens lui, het dit los gekom
en met ʼn oorverdowende slag in die toring af geval – waar hy seker
nou nog lê.
Die gemeente het twee voltydse bedieningspunte: Margate en
Port Edward. In 2009, na onderhandeling deur dr. Mike Heaney, is
daar ook elke derde Sondag van die maand ʼn diens om 11:15 in die
kapel by die Margate aftree-oord, destyds bekend as die ‗Village of
Happiness‘, gehou. Dit is ʼn uitreik na die bejaardes in die oord, vir wie
dit te moeilik is om Sondae die kerk te besoek. Vir verskeie redes,
soos die konstruksie van die kerk en parkering, word dit ook byge-
woon deur ander lidmate met spesiale behoeftes, wat nie in die aftree
-oord woon nie.
Vanaf die vroeë sewentigs is Port Edward se kerkdienste in die
saal van die Polisie-oord, gehou. Gedurende daardie tyd is reeds be-
gin om die saak van ʼn eie kerkgebou ʼn ernstige saak van gebed te
maak. Fondsinsamelingsprojekte is daarvoor begin. Toe die saal nie
meer beskikbaar was nie, weens verandering van eienaarskap, het
die Rooms Katolieke Kerk hul kerkgebou beskikbaar gestel vir die NG
kerk se bedieningspunt op Port Edward – ʼn voorbeeld van ekumenie-
se samewerking.
Toe ʼn tweede leraar in 1985 beroep is, moes ʼn tweede pastorie
aangekoop word. Dit is geleë in Uvongo.
ʼn Huis, aangrensend aan die kerkgronde, is deur ʼn vorige koster
teen ʼn billike prys vir die kerk aangebied. Dit is aangekoop en die
Jeughuis genoem. Tans word hard gewerk aan opgradering van die
huis en sy omgewing. Dit staan nou as die Jeugsentrum bekend. Hier
word die kinderkerk op Sondae aangebied.
Die gemeente is geseën met talle emeriti wat elkeen in eie reg ʼn
bydrae lewer tot geestelike opbou van die gemeente. Hulle bereidwil-
ligheid om hul onderrig en woorde neer te stuif soos dou op groen
gras en reënbuie op plante (Deut 32:2) by die erediens in die afwe-
sigheid van ‘n leraar weens sinodale verpligtinge of verlof, word waar-
deer.
12