“Aan U behoort die Koninkryk en die Krag en die Heerlikheid tot in Ewigheid”
Alhoewel hierdie lofrede aan die einde van die Ons Vader-gebed nie deel van die vroegste tekste is nie, is dit ‘n gepaste latere byvoeging tot Jesus se gebed. Dit verskuif die blik vanaf ons brood, ons oortredinge en ons versoekings deur die Bose, na ‘n lofroep gefokus op God.
Edmund Schlink, die groot ekumeniese teoloog uit Heidelberg (Duitsland), skryf dat lof nie soseer sê: “Ek loof die Here” nie. Lof sê eerder: “Die Here sy geloofd”. Die ek en die ons wat loof, verdwyn dus, omdat ons onsself al lofprysend voor God uitgiet en ons in Hom verloor.
Lof grens aan die mistiek omdat dit die grens van die rasionele, selfbehoudende mens oorskry en opgaan in ‘n oopheid na God.
Dit gaan dus in lof nie oor mý lekker gevoelens nie. Dit gaan nie primêr oor my Godsemosie nie. Dit gaan oor Wie God sélf is. “Geloof sy die Vader wat in die hemel is! Aan Hom kom toe die koninkryk, krag en doksologie. Hy is Koning, magtig en heerlik.”
In Openbaring kom hierdie woorde gereeld voor in die lofbedes tot Christus: “Here, U is waardig om die eer en die heerlikheid en die mag te ontvang” (Op. 4:11)). En: “Aan Hom wat op die troon sit, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag” (Op. 5:13).
Die woorde van die eerste artikel uit die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) handel oor die enige, enkelvoudige Wese wat ons God noem. “God is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, die alleroorvloedigste fontein van goedheid …”
Tot so ‘n God bid ons.
In so ‘n God word ons opgeneem.
In sý lof verdwyn ons.
Piet Naudé
Die Groot Gebede Boek — Oktober
Lux Verbi. BM