Naomibediening

JR2024-1 Korrels

In 1998 het die Naomibediening sy beslag gekry nadat Sanet Borchardt haar man verloor het. Die Here het dit vir haar duidelik gemaak dat dit die geleentheid was om haar en haar vriendinne in dieselfde situasie, se hartseer te kanaliseer. Willie Horn het haar ondersteun om hierdie tree in die donker te gee.

Min het hulle toe geweet dat ‘n groep wat uit soveel hartseer gebore is, soveel vreugde sou verskaf”. Dit kon nooit die gemis aan jou lewensmaat uitwis nie, maar dit het kameraadskap gebou wat verweer teen die eensaamheid was. Die groepie het saam begin tee drink. Hul selfvertroue het gegroei. Daar is elke maand op ‘n ander plek vergader. Dit is afgewissel met uitstappies na Ramsgate strand, Port Edward se Ligtoring en meer.

Die groep het gegroei en is opgedeel in kleiner groepe, elk met ‘n leier wat persoonlike aandag kon gee waar nodig. Kleiner groepies het ook maandeliks vergader. Lewenslange vriendskappe is gesluit. So het Naomi verskillende groeifases gehad. Mettertyd het ander alleen dames soos geskeide dames en die wat nooit ‘n lewensmaat gehad het nie, ook aangesluit by die groep. Hulle het weer ‘n ander dimensie aan die dinamika na byeenkomste gebring. Die kleingroepies het geblom en alleenheid verdryf. Meteens was dit moontlik om na buite byeenkomste te gaan as groep en so ‘n nuwe sosiale vlak te betree.

Die tyd het aangestap en verskeie nuwe leiers het die leisels oorgeneem. Elke nuwe leier het ‘n positiewe stempel op die groep afgedruk. Lede het gekom en gegaan. Lede het ouer en afhanklik geword, jongeres het aangesluit en so word die balans behou.

Die Naomigroep reik uit na gemeentelede wat ‘n huweliksmaat, ‘n kind of naby familielid verloor. ‘n Spesiaal voorbereide troospakkie met sewe klein geskenkies en bemoedigende versies in, word aan die persoon oorhandig nadat al die aanvanklike ontwrigtende sake rustiger word.

Byeenkomste van die groot groep vind nou elke tweede maand plaas in die kerksaal waar dit afgesluit word met ‘n heerlike saam-eet. Elke groepleier reël ‘n uitstappie of saamkuier in die maand tussen in.

Die Naomibediening sluit jaarliks af met ‘n heerlike ete by ‘n restaurant waar hul met grasie bedien en bederf word. Hul word telkens vereer met die teenwoordigheid van die leraars-egpare.

Sanet, het hierdie wens vir die groep gestuur:
“Mag die unieke vermoë om te herstel na skeiding en verandering in lewensomstandighede te kan hanteer, nooit verval nie. Nie die grootte van die groep nie, maar die gevoel van geborgenheid en die bereidheid om mekaar se hande vas te hou, is die finale beeld van Christus en sy kerk wat ons in hierdie gebroke wêreld so broodnodig het.”