NG gemeente Margate besit ʼn hele paar eiendomme wat voortdurende sorg en aandag vereis. Onderhoud is ʼn aspek waarvan die behoefte aan onderhoud, sorg en koste taamlik vermeerder het en effektiewe beplanning en begroting vereis. Toename in saakbeskadiging speel ‘n groot rol.
ʼn Voldonge feit is dat die gemeente baie trots is op sy eiendomme, veral die kerkgeboue.
Die eerste kerkgebou is op 28 en 29 September 1974 ingewy. Die kerk is gebou op grond wat deur die kerkraad aangekoop is. Die gebou was ‘n geskenk van die Barnie Human familie van Bloemfontein. Die familie het deur die jare ondersteuning gebied ten opsigte van die onderhoud van die kerk.
Wat pastorieë betref, die volgende: Die pastorie in Kerkstraat was die bruidskat van die NG Gemeente Port Shepstone met die afstigting van NG Gemeente Margate. ‘n Tweede pastorie is aangekoop in Margate, uitbreiding 3. Die huis is later verkoop waarna daar in 2001 ʼn pastorie in Alanstraat aangekoop is.
Die gebou van die jeugsentrum is in 1993 aangekoop. Die huis het aan mnr. Jan Smit, destydse koster, behoort. Na sy afsterwe is die eiendom aan die kerkraad aangebied teen ‘n billike prys. Na verbouings dien die gebou nou as jeugsentrum van die gemeente. Die jeugsentrum word ook vir jare al gebruik deur Pro Deo vir hul maandelikse klinieke.
Die kerk besit nog twee leë erwe, wat as parkeerterrein aangewend word.
In 2019 het die gemeente ʼn kerkgebou in Port Edward as geskenk ontvang, vanaf die South City Christian Church. Met hierdie skenking is die droom van lidmate in Port Edward omgewing bewaarheid. Die pragtige kampus dien tans as preekpunt in Port Edward.
Namate die geboue ouer word, verg dit al meer instandhouding. Met volgehoue toewyding en versigtige besteding van fondse poog ons steeds om die geboue netjies te hou.
As naskrif van die aspek van eiendomme, kan daar nie nagelaat word nie, om die feit te onderstreep dat hierdie gemeente geseën is met vaardige, kundige en gewillige, veral manne. Dit is afgetredenes wat hul diens aan die kerk en God lewer deur gewillige bydrae tot die instandhoudingsproses. Vir hulle is dit genade van die Here, om dit te kan doen. Wat hulle doen, word nie aan die groot klok gehang nie.
Onthou dit is ook nie moontlik nie,
want die klok lê mos onder in die toring