Jubeljaar!

JR2024-1 Korrels

Die gemeente het besluit om volgende jaar ‘n “Jubeljaar” te maak. Die konsep kom uit die Bybel: In die Ou Testament in Levitikus gee die Here voorskrifte aan die volk oor hoe hulle hul lewe in die beloofde land moet inrig.

Elke 7-de jaar moes hulle as ‘n Sabbatsjaar inrig en elke 50-ste jaar as ‘n “Jubeljaar”. Net soos elke individu moes rus op die 7de dag, moes die land, die grond ook ‘n rus gegun word. In die 7de jaar moes die land braak gelaat word en nie bewerk word nie In die 50-ste jaar moes hulle ‘n spesiale “hersteljaar” vir die hele ekologie aankondig. Geen oes mag ingebring en geen gras mag afgesny word nie Nog meer as dit: Elkeen wat skuld gehad het, se skuld moes afgeskryf word, as iemand sy eiendom verloor het op watter manier ook al, moes dit in die jubeljaar aan hom teruggegee word.

Die uitgangspunt was dat die land eintlik aan God behoort, elkeen wat die land bewoon of bewerk, kon dit slegs as ‘n rentmeester bestuur. Hierdie beginsel word vir ons beklemtoon as ons vandag ‘n jubeljaar wil vier: Die gemeente is God se eiendom, dit behoort nie aan óns nie. Natuurlik besef ons dit deurentyd, maar dit word net weer dik onderstreep met ‘n “jubeljaar”. Tewens alles wat ons het en is, is die Here s’n: Ons huise, ons plase, ons besighede behoort aan Hom. Ons roeping is om dit namens en vir Hom te bestuur!

Dit het sekere praktiese implikasies: Eerstens dat ons nie daarmee kan doen soos ons wil nie. Ons moet dit in verantwoordelikheid aan Hom besit en bestuur. Tweedens kan ons nie sommer onverskillig daarmee omgaan nie. Ons moet dit hanteer met absolute verantwoordelikheid en sorg en noukeurigheid, na die heel beste van ons vermoëns. Verder moet ons só lewe en optree soos vreemdelinge en bywoners hier op aarde, met die wete: Hierdie is nie ons vaste verblyfplek of eiendom nie, ons is op pad na ‘n ewige woning.

En laastens het dit implikasies vir ons verhoudinge teenoor ons naaste: Ons is nie die onverbiddelike “baas” oor onsself en hulle nie, ons moet vir elkeen van ons naaste, ook ons minderes ruimte gun, ‘n plekkie in God se son. Gaan lees maar gerus weer oor die Sabbatsjaar en jubeljaar in Lev. 25!

As ons ons lewe inrig volgens hierdie riglyne, sal God se Naam geëer word!
Ds. Abrie van Wyk