Oor die loop van die jare, was daar ‘n orkes of twee wat van tyd tot tyd voorsang-begeleiding in die kerk gedoen het. Dit was ongelukkig nie op voortgesette wyse nie. Sukses en stabiliteit was en is steeds baie afhanklik van beskikbare talent en vaardigheid.
Julie 2019 het Dr Mike Heaney vir Dries du Plessis ‘n lysie van musikante in die gemeente gegee en hom gevra om ‘n orkes saam te roep sodat hulle eenkeer per maand die voorsang kan aanbied en die gemeente Flam-liedere leer sing.
Waar ‘n wil is, is “n weg. ‘n Spannetjie is bymekaar gekry en het spontaan gegroei. Dit bestaan nou uit ‘n groepie wat blom met blydskap, entoesiasme en sukses, onder leiding van die talentvolle Cecile Steyn. Watter instrument jy ook bespeel, bring jou instrument en kom klop aan. Jy is welkom.
Die orkes het die “Begeleidingsgroep” geword en bestaan tans uit die volgende: Twee sleutelborde, ‘n trekklavier, ritme-kitaar , baskitaar tromme en simbale, tamboeryn, trompie en voorsangers.
Tot op hede het hulle sowat 120 liedjies gespeel. Die gemeente is regtig lief vir sing en geniet die samesang terdeë. Vir die groepie gee dit vreugde. Saam met hulle talent en toewyding, kan almal sing tot die verheerliking van ons Hemelse Vader.
Feeslied en Jubellied
Die gemeente is geseënd met baie talentvolle lidmate. Twee van hulle het hul talent op besondere wyse gedeel.
Dr. Lourens Faul, begaafde komponis, het vir die gemeente se een-en-twintigjaar herdenking in 1995 ‘n Feeslied met woorde gekomponeer.
Vanjaar, vir die Jubeljaar of vyftigjarige herdenkingsfees, het die besonder talentvolle lidmaat, Cecile Steyn, die “Jubeljaar-lied” met woorde gekomponeer.