Vreugde
Vreugde is soms soos ‘n vuurvliegie wat die meeste van ons bly ontwyk, en tog is dit binne elkeen van ons se bereik. Daardie soort vreugde wat nie gekoppel is aan uiterlike omstandighede
nie, wat gemaak het dat Paulus en Silas lofliedere in die tronk kon sing, dat Dawid te midde van groot swaarkry vir die Here lofpsalms kon skryf, daardie vreugde kan joune wees!
Wanneer jy besef dat daar geen werklike vreugde sónder God kan wees nie, dat Hy die bron van alle ware vreugde is, raak alles so eenvoudig. Dan kan jy na die natuur om jou kyk en God raaksien in die helder kleure van die blomme, dan kan jy Hom voel in die windvingers deur jou hare, kan jy Hom hoor in die vrolike lag van ‘n kind en die geluid van water oor rivierklippe. Dan kom daar ‘n borrelende blydskap uit jou diepste wese, ‘n blydskap wat onafhanklik is van jou omstandighede, sodat jy nie anders kan as om saam met die psalmdigter vir God ‘n loflied te sing nie.
Nina Smit
‘n Keur van Wysheid – p. 429
CUM
Lof aan God
Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus!
Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel.
So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees … tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begunstig het.
Efesiërs 1:3,4&6
Nuwe Testament en Psalms
‘n Direkte Vertaling