Volgens die Kerkorde behoort daar “n gereelde aftrede van ouderlinge en diakens te wees. Hul dienstyd word deur die kerkraad gereël en is tans twee jaar. Soos in baie ander gemeentes, beleef Margate ook ‘n tekort aan kerkraadslede en word verskeie wyke met onderskeiding deur Dienswerkers bedien. Meeste kerkraadslede word na hul twee jaar diens tyd herkies.
Die amp of bediening van die ouderling is gerig op geestelike onderskeiding en leiding, versorging, bestuur en toesig en die amp of bediening van die diaken is gerig op praktiese dienswerk. Dit begin in die erediens, en gaan vandaar uit na die gemeente en die wêreld waarin die lidmate leef. Weens die tekort, werk almal suksesvol saam as ‘n span met fokus waar die behoefte is. Wyksgebaseerde “broadcast groups” word baie effektief benut.
In 1984 word die tweede vroulike diaken (toe nog diakones) in die persoon van Hannetjie Pretorius bevestig. En na 40 jaar is sy nog op die kerkraad. Van ‘n aanvanklike een-leraar gemeente groei die gemeente so dat ‘n tweede leraar in 1986 bevestig word.
In die vroeë 2000″s word besluit dat Margate voortaan ‘n kerkraad gedrewe gemeente sal wees. Die leraars is die geestelike leiers van die gemeente met sitting op alle kommissies.
Gedurende 2005 en 2006 beleef die gemeente ‘n hartseer tydperk, maar deur baie gebede en koelkop kerkraadslede lei die Here die gemeente ook deur hierdie krisis en word twee “nuwe” leraars vanaf 1 Desember 2006 bevestig. Hierna volg stabiliteit en rustigheid en word die gemeente in ‘n hegte eenheid saamgesnoer.
Kerkraadskommissies word herbenoem tot “Diensgroepe” met die klem op diens wat van plaaslik tot in die buiteland gelewer word.
Eensgesindheid en onderlinge liefde onder kerkraadslede skep vir die leraars ‘n veilige plek vanwaar hulle hul taak met ywer kan verrig.
Alle eer aan God.