Gemeentebediening

JR2024-1 Korrels

Volgens die kerkorde rig die kerk hom deur middel van gemeentebediening tot die lidmate ten einde die gemeente op te bou tot vervulling van sy dienswerk.

By die gemeentebedieningspan is die oorsprong van die saad wat gewoonlik op ‘n wye vlak in stilte gesaai word en effektiewe dienswerk tot gevolg het. Dit is waar aspekte soos geestelike groei, gemeentebinding, sosiale kontak, herdenkings, gasvryheid, uitreik na buite, voorstel van kerkraadslede en verwelkoming van nuwe lidmate, inligting en geestelikegroei, en meer, hul grondslag kry.

As voorbeeld kyk ons bietjie na twee tasbare voorbeelde.

Eerstens:
Die Visie van NG Gemeente Margate was “Margate leef vir Christus”.
By gebrek aan ‘n Missie wat die Visie ondersteun is ‘n kompetisie uitgeskryf vir die ontwerp van ‘n logo wat die Visie sou beskyf.
Johann du Toit se ontwerp het gewen.

Logo Simboliek
KRUIS – Simbolies van Christenskap en die aflegging van sonde
SIRKEL – Simbolies van ligenvrug van die Gees
GOLWE VAN SEE – Simbolies van lewe en die alomteenwoordigheid van Christus en geografiese ligging van Margate. Golwe loop uit raam die wêreld in.

In lyn met Paulus se woorde aan die Korinte wat sê dat hulle hul moet toelê op die gawes van die Gees en streef tot die opbou van die Gemeente (1Kor 14:12)

Mens sou die bedoeling van die Visie so kon verstaan: As versoendes deur ons gekruisigde Verlosser en opgestane Here Jesus Christus, beywer ons ons daarvoor om ons ou natuur af te sterwe en in al ons bedieninge sy volmaakte wil vir sy kerk na te streef. As gestuurdes van Christus na die wêreld wat Hy liefhet, beywer ons ons daarvoor om in die samelewing lig te bring waar daar duisternis is, hoop waar daar wanhoop is, vreugde waar droefheid is, vrede waar daar onvrede is en en eenheid waar daar verdeeldheid is.

Die hoofoogmerk is dat Margate vir Christus sal leef.

Tweedens:
Gemeentebediening volvoer sy taak deur die gemeenteblad, Korrels, uit te gee.

In 2012 het die gemeentebedieningspan gevoel dat ‘n gemeentelid die samestelling en finalisering van Korrels, kan hanteer. Groter betrokkenheid van gemeentelede moes verkry word, wat gemeenteaktiwiteit sal weergee. Dr. Mike Heaney het opgetree as mentor en rigtingwyser.

Van ‘n 16-blad, basiese nuusbrief, het Korrels ‘n 40-44 blad kwartaaluitgawe geword. Dit word saamgestel deur samewerking en betrokkenheid van ‘n ywerige span. Daar is gewoonlik so twintig bydraes van gemeentelede, drie tot vyf van vriende en leraars van buite, tema ondersteuning deur bekende geestelike outeurs, vyf proeflesers uit gemeente en natuurlik al die personeel. Dit weerspieël die geestelike lewe en totale gemeente-aktiwiteit.

In 2016 het twee groot veranderinge met Korrels plaasgevind. Eerstens was dit ‘n ongelooflike groot seën toe dr. Dawie Oosthuysen die nuus oordra dat Barend & Maryna Dunn & familie van PostNet, Shelly Beach, aanbied om Korrels vir NG Gemeente Margate te borg en druk op goeie kwaliteit papier, met ‘n kleur voorblad.

Die Covid-19 pandemie het PostNet, soos meeste ander besighede hard getref. Hul kon nie voortgaan met die totale borgskap nie. Hulle het voorgestel dat as die gemeente net die papier voorsien, sal hulle graag voortgaan om die drukwerk gratis te doen, wat hul tot vandag nog doen, tot eer van die Here.

In die tweede instansie het Korrels jaarliks onder leiding van die Heilige Gees op ‘n tema begin fokus. Dit het uiteindelik uitgeloop op ‘n gemeente-tema vir die jaar, met vier onderafdelings as kwartaal temas. So het die gemeente saam ‘n pad geloop in die opbou na die vyftigjarige herdenkingsfees.

Kommunikasie is en bly ‘n basiese vereiste in gemeentebou. Intussen het die tegnologie so ontwikkel, dat daar dalk besin moet word of die gedrukte vorm steeds die voorkeur of enigste vorm vir Korrels is. In hierdie Jubeljaar sal Korrels egter voortgaan om deur die kwartaal blad die gemeente op hoogte te hou van die geestelike leiding, versorging, bestuur en toesig, asook van die bediening van die praktiese dienswerk wat verrig word tot eer van God.

Vanjaar “Eer ons God” deur hom te prys, te dank, te dien en te vertrou vir die toekoms.
Soos Habakuk sal ons jubel en juig. Ons Here, is ons krag.
Habakuk 3:18 &19