Vroeg in 2015 het Pro Deo die behoefte aan ‘n sosiale- en omgeegroep onder senior burgers identifiseer. So het die groep ontstaan en dit is later in dieselfde jaar herdoop as die “Kierieklub”, op voorstel van een van die lede, Tomboy de Jager. Vanaf die ontstaan is Helene Terblanche betrokke as lid en weldra het sy die leiding oorgeneem, waar sy as “Hoofkierie” die groep bekwaam, rustig en empaties gelei het tot einde 2021, toe sy die leisels aan Gerhard Stoltz oorhandig het.
Drie jaar ná sy ontstaan het die klub sy bande met Pro Deo losgemaak om sy fokus meer op gemeentesake toe te spits. Een van die projekte was om nuwe gordyne vir die Kerksaal daar te stel. Die Kierieklub dra ook steeds voortdurend fondse en hulp by tot die Diens van Barmhartigheid en ander verdienstelike kerkprojekte. In hoofsaak egter is die klub ‘n waardevolle ondersteuningsbasis vir die lief en leed van sy lede, en doen so steeds gestand aan sy oorspronklike doel as omgeegroep.
Die sosiale byeenkomste tweemaal per maand is gewoonlik ‘n heerlike ontspanningsgeleentheid. Pretspeletjies, talentvertonings, interessante tema praatjies, uitstappies en konserte vorm deel daarvan – en natuurlik heerlike saamkuier en eet. Groepspeletjies en bingo is altyd ‘n hoogtepunt, en die suigstokkie of sjokolade-pryse vir die wenners dien as motivering, soveel só dat die einste Tomboy eenkeer gesê het dat sy bereid sal wees om op die vloer rond te kruip as sy tog maar net ‘n sjokolade kon wen; en toe dóén sy dit, tot groot vermaak van almal!
Aktiwiteite op die program vir die res van die jaar is musikale Pictionary, Money-or-the-Box, binnenshuise rolbal, ‘n bring-en-braai piekniek by Ramsgate Strand, ‘n Kieriekonsert, Stoepstories en die eindjaar afsluitingsdinee by Sanlameer.
Die klub is oop vir enigeen wat behoefte het aan gesonde sosiale verkeer, en is ook nie beperk tot net Margate NG-lidmate nie. ‘n Stapkierie as derde been is ook geensins ‘n vereiste nie; inteendeel! Daar is ‘n jaarlikse ledefooi, wat in hoofsaak aangewend word vir die eindjaar funksie en ook verdienstelike kerkprojekte.