Of die Here geloof, geprys of gedank word, of dit oor skuld- of geloofsbelydenis of hoop en gebed gaan, die sang tydens die erediens in NG Gemeente Margate, is telkens ‘n geesverheffende belewenis. Dit is ‘n musiekbediening wat ‘n “Godservaring (is met) vleuels wat mense besiel, aan hulle vergesigte gee, hulle vertroos, versterk en bemoedig (onder) inspirasie van die Heilige Gees, waardeur God se Persoon, sy wese en wil bekend word”. (p.16, Liedboek van die Kerk)
Die verhaal van die musiekbediening strek van die dae toe dienste Sondagmiddae in die Metodiste kerk in Margate gehou is voor afstigting. ‘n Afgetrede predikant se vrou het die orrelbegeleiding waargeneem. Toe hulle verhuis, is ‘n jong lidmaat, Cobus Pienaar, nader getrek vir die begeleiding. Hy het homself op ‘n huisorreltjie leer speel en binne ‘n jaar nog ‘n orrel gewen in ‘n kompetisie. Na afstigting is dienste in die klein saaltjie op die nuwe terrein gehou. Cobus het ‘n lidmaat in Port Shepstone se dogter, Shirley, wat besig was met teateropleiding in Addington hospitaal in Durban, ontmoet. Dit het gelei tot ‘n lewenslange verbintenis met mekaar, maar ook met die wonder van musiek en sang in die kerk. Cobus en Shirley het die aand in Port Shepstone kerk, 29 Maart 1974, tydens die afstigtingsdiens, verloof geraak. Hulle is in Junie daardie jaar getroud.
Terwyl die kerk in aanbou was, het Cobus, sy ouers, familie en vriende begin fondse insamel vir ‘n orrel. ‘n Alborn Orrel is aangekoop en die dag toe hy afgelewer word in die nuwe kerk gebou, word die argitek gevra waar is die orrel se plek? Hy het so rondgekyk in die kerk en gesê: “dit moet maar daar agter in die kerk kom”. Daar was nie voorsiening gemaak vir ‘n orrel nie. Hy staan vandag nog “daar agter in die kerk”. Dit was sekerlik so beplan deur God.
‘n Hegte viertal het ontwikkel tussen Cobus, Shirley, Talent en Alborn die Orrel, wat later vervang is met Allen die Orrel. Onder hulle leiding, vervul met die Heilige Gees, is psalms, lofgesange en geestelike liedere laat opklink, om die Here en God die Vader van harte te dank in die Naam Jesus Christus. (Efes. 5:19&20)
Die Alborn orrel was nie voldoende vir die gemeente nie en het begin probleme gee. Hy is verkoop en ‘n nuwe Allen Orrel, afkomstig uit Amerika, is aangekoop in 1983. ‘n Maand later is daar aan die kerk se lekkende dak gewerk. Daardie nag sak ‘n hewige bui reën uit. Die water gaar op in die plafon en bars oop reg bokant die orrel. Honderde liter water is deur die orrel en oor hope van Cobus se musiekboeke. Daar moes masjinerie ingespan word om die water voor die kansel op te suig. Dit het daar gelyk soos ‘n swembad.
In oorleg met die kerkraad en die orrel verskaffers, is die orrel na Cobus en Shirley se huis geneem en vir twee weke lank het waaiers en verwarmers gewerk om hom droog gekry. Die orrel verskaffers van Pretoria was die dag teenwoordig toe die orrel aangeskakel is, en die mense by die fabriek in Amerika was telefonies gekoppel. Die orrel het gewerk! Maar hy het later baie probleme begin gee as gevolg van die water skade en daar word toe daarna gekyk om hom te vervang. Hy het byvoorbeeld tydens die Kersfees seisoen, met ‘n VOL kerk, gaan staan. ‘n Klein orreltjie wat toe in die saal was, is inderhaas ingedra. Shirley het met ‘n mikrofoon by sy luidsprekers gestaan om hom meer woema te gee om die gemeentesang te begelei.
Baie fondse moes ingesamel word en die vakansiegangers het mildelik bygedra. Een gemeentelid (James Wagener) het ‘n geweldige groot skenking gemaak wat dit moontlik gemaak het om die huidige orrel te koop. Dit is ook ‘n Allen orrel. (James se weduwee is nog hier in die gemeente.) Die orrel is in Januarie 2009 op sy plek geplaas en op die 29ste Julie 2009 ingewy. Tot vandag staan die orrel nog steeds daar agter in die kerk. Shirley is oorlede, maar Cobus is steeds NG Margate se orrelis.
Kerkdienste in Port Edward was verskillende tye in ander se geboue en kerke aangebied. Hul was altyd geseën met ‘n talentevolle persoon wat die begeleiding te kon waarneem. Susan de Klerk het vir baie jare hul op die klavier begelei. Elza du Plessis het by haar oorgeneem toe sy verhuis het. Met ‘n eie kerkgebou uiteindelik, het hul voortgegaan met “n klavier wat nie meer so suiwer was nie. Toe word ‘n klavier so goed as nuut aan hulle geskenk.
Hulle sê hulle het nog altyd geniet om die Here te loof met hul voorsang sowel as tydens die diens en dit is vir hulle ‘n besondere voorreg om die Here op hierdie manier te vereer.
Intussen ontdek die nuwe koster in Margate, agter die saalverhoog, ‘n kas. In die kas is ‘n Yamaha orrel. Hoe lank het hy daar gewag vir ‘n eie kerkgebou in Port Edward?