Rentmeesterskap

JR2024-1 Korrels

Die kerkorde vereis dat die nodige voorsiening vir die sorgvuldige beheer van die stoflike aangeleenthede van die kerk in plek is. Daar moet jaarliks verslag gedoen word van sy rentmeesterskap aan die gemeente, ring en sinode. Vir behoorlike rentmeesterskap asook effektiewe funksionering van die kerk as entiteit, is bekwame, betroubare en toegewyde personeel nodig.

Deur die jare het personeel gekom en gegaan behalwe vir ons orrelis, Cobus Pienaar, wat steeds agter die orrel inskuif om die gemeente Sondag na Sondag met sy besondere talent te bedien – ‘n half eeu lank! Vir die Suidelike wyke was daar altyd ‘n talentvolle pianis wat die begeleiding hanteer het.

Interessant genoeg, is dat die eerste koster, Oom Koos Pienaar, Cobus se pa was, met Willie van der Schyff as die eerste skriba. So word die kantoor toe nog met pen en potlood bedryf.

Op 21 Mei 1990 begin Hettie Mynhardt as die eerste sekretaresse en saam met haar die eerste rekenaar. Haar lessenaar was ‘n deur op twee bokstaanders met Ds. Ben van Dyk as rekenaar opleier.

Met aanvanklike groot uitdagings word die hele kantoor stelselmatig gerekenariseer. Die Skriba word mettertyd die Saakgelastigde en die Sekretaresse die Administratiewe Beampte, tans ook een in die suidelike wyke en ‘n koster by elke kerkgeboue.

Die koster speel ‘n geweldige rol om te midde van wind en weer en verouderende geboue en inhoud, sy hand daaraan te hou. Om telkens vir erediens, vergadering, huwelik, roudiens , braai, of tee of koffie na diens gereed te hê in goedversorgde omgewing, is ‘n uitdaging wat waardering verdien.

Vir die kantoorpersoneel is dit ietwat van ‘n uitdaging om hul werk af te handel te midde van gemeentelede wat gou bietjie wil gesels wanneer hulle iets aflewer of gaan haal of dalk net inloer. Die probleem . . . daar is sulke gawe luistermense in die kantoor.

Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, oor u troue liefde, oor u bestendigheid.
Ps. 115:1&2