Diens van Barmhartigheid

JR2024-1 Korrels

Die N G Kerk se reglement vir diens van Barmhartigheid bepaal dat die kerk met priesterlike bewoënheid moet omsien na die armes en ander hulpbehoewendes, deur hulle te help, te troos en geestelik op te hef. Dit het die NG kerk Margate deur die afgelope 50 jaar met die Here se krag nagestreef. So baie mense met omgee harte en hande het hier hulself met onbaatsugtige liefde aan die diens van Barmhartigheid gewy, meeste afgetrede lidmate met “n passie vir God se koninkryk. Die Here ken hulle by name. As een uitval, neem ‘n ander een oor. Veranderde omstandighede lei telkens tot aanpassing en dit was en is die gevolg:

  • Jaarliks is die Kersoggend erediens by Kinderstrand te Glenmore se kollekte vir diens van Barmhartigheid aangewend.
  • Vir baie jare is tweedehandse klere wat geskenk was deur die diens van barmhartigheid verkoop vanuit “n lidmaat se garage.
  • Die leraar verantwoordelik vir diens van barmhartigheid het die hulpbehoewende individue en gesinne aan huis besoek.
  • Hulp is aan die hele gemeenskap gelewer.
  • “n Sopkombuis saam was saam met die Anglikaanse kerk bedryf. Lidmate het sop gevries en broodjies geskenk. Kos is ook van tyd tot tyd aan “padlopers” uitgedeel by die Kerkstraat pastorie.
  • Vrywilligers het help kos pak vir diens van barmhartigheid. Later is ook “n voogstelsel gevestig wat kospakkies by mense se huise gaan aflewer het. Daar is vir heelwat gesinne op die wyse gesorg.
  • Met gesinsdienste word nie-bederfbare voedsel by die kerk deur gemeentelede geplaas vir die diens van Barmhartigheid se koskas.
  • Die gemeente is ook betrokke by die kospakkie projekte van die twee Afrikaanse skole op Port Shepstone.
  • Hulpbehoewende leerlinge se busgeld skooltoe word gesubsidieer.
  • Met Kersfees ontvang hulpbehoewendes se kinders geskenkpakkies en skryfbehoeftes en “n Kerspartytjie word vir hulle gereël.
  • Op “n stadium is broodjies by die kerk uitgedeel vir hulpbehoewendes.
  • Dit wat individuele lidmate gedoen het word nie eens vermeld nie.
  • Twee maatskaplike werkersposte was met honderdduisende rande gesubsidieer deur die gemeente. Tans slegs een pos. Die maatskaplike werker van die CMD doen uitstekende werk veral by die plaaslike skole.

Die NG Kerk Margate was en is steeds Jesus se hande en voete van hulp en deernis en omgee.
Daar is soveel mooi verhale van lidmate wat “Barmhartige Samaritane” oor die 50 jaar was, sonder om eer of erkenning te soek.
Alle eer aan die Here!