Die Funksionering van die Gemeente & Werksaamhede van die Kerk

JR2024-1 Korrels

Die funksionering van die gemeente

NG Gemeente Margate funksioneer binne die kerkorde van die NG Kerk. Dit is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God, saamgebind deur ons geloof in die drie-enige God en die erkenning dat Jesus Christus die Hoof van die Kerk is.

Met die Kerkorde en wat daarmee saamgaan, gee die Algemene Sinode leiding om op kerkordelike wyse uiting te gee aan die kerk se missionale roeping. Die gemeente steun sterk daarop, want dit hou ons staande in die strome wat soms poog om ons uitmekaar te dryf.

Die werksaamhede van die kerk

Die missie van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees is om lewe en volheid aan die wêreld te gee.
Die kerk is in diens van hierdie missie van God.
Só laat Hy sy Koninkryk kom.

Die roeping van die kerk in sy gestuurdheid na die wêreld (Missio Dei) impliseer die toegewyde dienswerk van elke gelowige.

Elke gelowige ontvang van die Here die gawes, die geleenthede en die krag van sy Gees om in hulle daaglikse lewe gestalte te gee aan God se liefde vir hierdie wêreld.

NG Gemeente Margate lewer die afgelope 50 jaar sy diens aan God deur die vrywillige werksaamhede van gelowiges, saam in verskeie groepe waar hulle die geleentheid kry om hul Godgegewe talente tot sy eer te benut en die missie uit te leef, in dankbaarheid aan God se liefde vir hierdie wêreld.