Vyftig jaar in die bestaan van “n gemeente is “n lang, maar ook so “n kort tyd. In 2024 vier ons die Here se pad van troue liefde met “n gemeente wat vir Christus leef. Ons is bevoorreg om steeds lidmate van die gemeente by ons te hê wat deel was van afstigting van Port Shepstone 50 jaar gelede.
Saam met hulle en baie ander “geloofshelde” in die loop van die jare, dank ons die Here God vir Sy gawes (mense en middele) aan Sy kerk deur vyf dekades. “n Gemeente bestaan immers uit haar lidmate wat verenig is onder haar enigste Hoof, Jesus Christus.
In 1 Samuel 7:12 lees ons dat Samuel, nadat die Here aan die volk die oorwinning oor hul vyande gegee het, “n klip ter herinnering geneem het en die plek Eben-Haeser genoem en gesê het: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.” Eben-Haeser beteken letterlik “steen van hulp.” Dit was “n gebruik in die Ooste destyds om klippilare of stene staan te maak op “n geskiedkundige plek waar iets groots gebeur het. Ironies genoeg, word daar ook van “n ander Eben-Haeser melding gemaak in 1 Samuel 4:1 waar Israel “n nederlaag gely het vanweë hulle oormatige vertroue op hulself en later hulle bygeloof.
Die vyftig jarige herdenking is ons gemeente se Eben-Haeser. As ons terugkyk op die verlede, sien en hoor ons oral van verhale van hoop waar die Here ons Helper was. Daar was natuurlik ook tye wat daar seer in die gemeente was. Tog het die Here ons deur alles heen styf vasgehou. In die gemeente lê daar baie gebede en dankoffers en sweet en trane van gelowiges wat meegewerk aan die opbou en uitbreiding van die Here se koninkryk. Daarvoor is ons God ewig dankbaar, want Jesus Christus hou Sy kerk in stand.
Die 50 jaar tema van die gemeente is: “Eer aan God” en die kwartaal tema, “Loof God.” Op Sondag 3 Maart 2024 as ons bymekaarkom om vyftig jaar van God se genade te vier, kry ons geleentheid om dankie te sê dat die Here ons tot hiertoe gehelp het om “n verskil in die gemeenskap te maak, om die evangelie te verkondig en medegelowiges te ondersteun. Jy was die verskil! As ons terugdink, loof ons die Here dat Hy altyd meer gedoen het as wat ons kon dink of vra, ja, selfs twee kerkgeboue wat geskenk is aan die gemeente en dat Hy altyd voorsien het, ook wanneer die nood op sy hoogste was. Alle eer aan Hom.
Die Here self is ons “Steen van hulp” want ons gemeente is op “n Vaste Rots, op Christus en Sy Woord gebou. Die graf is leeg, Jesus het opgevaar en sit aan God se regterhand. Ons glo dat God die NG kerk Margate altyd van hulp sal wees, want Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in alle ewigheid. Mag ons met oorgawe steeds onsself, ons lewens, ons kanse, tyd en geld aan die uitbreiding van God se koninkryk wy. Die Here is die NG Kerk Margate se hulp van geslag tot geslag.
Eben-Haeser!
Tot hiertoe het die Here ons gehelp.
Hy sal altyd ons Steen van hulp wees.
Halleluja!
Dr. Mike Heaney
Kom, laat ons voor die Here jubel,
laat ons juig tot eer van die rots wat ons verlos.
Laat ons tot Hom nader met dankliedere,
met lofgesange juig tot sy eer.
Psalm 95:1-7
Bybel — 2020 Vertaling..