Mense sê: Pro Deo is nou privaat. Hoekom plaas julle hul verslag in Korrels asof dit julle eiendom is?
So hier is die storie: Pro Deo is NG Kerk Margate se trots, gebore uit die skoot van hierdie gemeente, hier groot gemaak en nou toegelaat om onafhanklik op eie bene te staan, maar bly gewortel in die kerk met ‘n konstitusievereiste wat altyd ‘n leraar van NG Kerk Margate as deel van die Pro Deo Gemeenskapsraad verteenwoordiging sal hê.
‘n Ouer vergeet nie sy kind as hy die volwasse lewe betreë nie. Die Pro Deo diens is steeds getrou aan “Vir Christus sonder betaling”. Dit is ‘n suksesstorie van diens en naaste liefde, wat ontstaan het by gemeentelede wat omgee én doen, tot eer van die Here.
In die laat negentigs, skryf die predikantspaar van NG Gemeente Margate, ds. Jackie en Gerda Swanepoel, in Pro Deo Jaarboek: “Pro Deo is gebore uit gelowige vroue wat die nood en behoeftes van ander raakgesien en met deernis en medelye tot aksie oorgegaan het. Hierdie onbaatsugtige diens word verrig met toewyding, liefde en volharding. Dit is letterlike en figuurlike toepassing van ons Here se opdrag aan ons om mekaar se voete te was.”
Mandi Wilsenach, die stigter en Voorsitter van Pro Deo, se gebed verskyn ook in dieselfde jaarboek:
“Liewe Hemelse Vader, al die dank en eer aan U vir die wonderlike voorreg van U Goddelike ondersteuning en inspirasie van U Heilige Gees en al die Genade van bo, dat ons met hierdie wonderlike Omgee Groep kon begin hier in Margate.”
Dit behels die verskaffing van doeke, rolstoele, looprame en versorging waar die nood groot was. Gesondheidsklinieke is eenmaal per maand aangebied, van een punt, later by drie. Dit behels ook uitbreiding en inkorporering van persone van ander kerke. Die diens word gelewer vanaf Hiberdene tot by Port Edward en sluit plaaslike gemeenskappe in, met tuisversorging wat ‘n permanente diens geword het aan siek en verswakte bejaardes wat nie formele sorg kan bekostig nie. Terselfdertyd het dit reuse projekte vir fondsinsameling behels. Dit was ‘n gholfdag en fietstoer met bydraers van heinde en verre.
Die behoefte aan dienste en befondsing het onhanteerbaar uitgebrei. Die enorme behoefte aan versorging en ondersteuning in die gemeenskap, het Dr. Eloïse van Niekerk, die Voorsitter (2016-2022) se omgee-hart so getref, dat sy besef het verandering is nodig – NG Gemeente Margate kan dit nie langer alleen behartig nie. Die finansiële behoefte was heeltemal te hoog en die behoefte aan diens hou nie by NG Margate se grense op nie, met spreekwoordelik, die oes wat al groter word en die arbeiders al ouer en minder. Met die behoefte aan die diens gesetel in die nood van soveel mense aan deernis, omgee en versorging, sal besighede finansiële skenings wil maak, veral met belasting korting. Dit het onder haar leiding ‘n interkerklike span geword, gedryf om die pad te loop wat dìt moontlik sou maak.
In Korrels se Lente Uitgawe – 3 van 2019 deel sy die volgende inligting:
“Pro Deo is nou ‘n amptelike Nie-winsgewende Vrywillige Organisasie (NPO 226-932) met aktiewe lede uit die meeste Christelike kerke aan die Suidkus. Dit beteken nie dat ons weg beweeg van ons fondasie in die NG kerk Margate nie, maar eerder dat ons uitgebrei het vanaf die kerk, met uitreiking na ander kerke. Die nuwe NPO, onafhanklik van die kerk, gee die geleentheid om as ‘n onafhanklike organisasie nasionale en internasionale bemarking te doen.”
Sodoende kon hulle die inkomste uit die gholfdag- en fietstoergelde dramaties aanvul. Pro Deo is ook formeel op die “map” geplaas met Faceboek: Pro Deo Care Group en ‘n webtuiste: www.prodeocare.org.za
Eloïse oorhandig die Pro Deo Voorsitter aflosstok aan Koos Groenewald in 2022 maar bly steeds ‘n aktiewe bestuurslid in die span van omgee en uitreiking.
NG Gemeente Margate ondersteun sy kind deur die gratis inligtingverspreiding in Korrels sodat lidmate weet wat Pro Deo doen, vrywillig hul diens daar kan lewer en gaan voort om stoor-, kliniek- en vergaderruimte by beide Margate en Port Edward kerkgebou te voorsien.
Koos Groenewald, huidige Voorsitter van Pro Deo, skryf:
“Met die vyftigjaarherdenking, is ons baie dankbaar om deel te kan wees van NG Kerk Margate se jubeljaar.”
Destyds in “Woord Vooraf” in die heel eerste Pro Deo Jaarblad is gesê:
“Ons glo dat Pro Deo nog baie sal groei en ons sien visioene van uitgebreide gemeenskapdiens en gemeenskapsbetrokkenheid.”
En nou . . . bid ons saam met Pro Deo:
Mag ons Hemelse Vader steeds deur die Heilige Gees die regte leiding gee, en Hy in alles verheerlik word.