Waar kom die naam ‘KORRELS’ vandaan?

JR2024-1 Korrels

Hierdie vraag het my by die argief hier in Pietermaritzburg gebring. Daar het ek die eerste uitgawe van “Margate Korrels” van Desember 1992 ontdek. Op die voorblad word die vraag gevra: Waarom Korrels? Daar word niks gesê oor die betekenis van die naam nie, maar wel dat dit nou ‘n maandblad word om die afkondiging korter te maak. Dit vervang die kwartaalblad met die naam “Gemeentenuus”.

‘n Oproep na my vorige kollega, ds, Jakkie Swanepoel, het meer duidelikheid gegee oor die keuse van die naam “Korrels”. Dit verwys na die sandkorrels, want Margate gemeente is by die see. As tweede betekenis kan dit ook verwys na koringkorrels, wat eers moes sterf voordat dit vrug voortbring.

Die oudste gemeenteblad in die Argief is die Kersfees uitgawe van 1976 met die naam “Gemeentebrief”. In Julie 1986 is voorstelle gevra vir ‘n nuwe naam vir die Gemeentebrief.

Interessante voorstelle het ingekom, onder andere Laaste Gelui, Blinkwaters, Die Visser, Die Seeperdjie, Laer Suidkus NG Nuus, Margate Kerknuus, Die Albatros en Die Aalwyn. Uiteindelik word die nuwe naam “Gemeentenuus” gebruik vanaf 1987.

Die naam “Margate Korrels” wat vanaf 1992 gebruik is, word later verkort na “Korrels”, wat nog steeds gebruik word.
(Ds. Ben van Dyk, leraar in Margate gemeente, 1986-1996)
Ds. Van Dyk se wens was destyds en geld nog:
Mag Korrels steeds ‘n getuienis wees van die gemeente se werk in God se Koninkryk!