‘n Laaste woordjie – Elda Pretorius
Vir hierdie uitgawe leen ek Oom Kallie se penskets en leiding vir elkeen van ons op die pad vorentoe. Dankie Oom Kallie.
Beskerming op ons lewensreis
Dalk het jy nog nie gehoor van ʼn mezuzah nie. Dit is ʼn stukkie perkament met inskripsies uit die Torah wat aan Joodse gelowiges 2 deurkosyne aangebring word. Wanneer jy dan by die deur in of uit gestap het, het jy daaraan geraak uit respek vir God.
Psalm 121 is ʼn baie bekende en troosryke Psalm in die Bybel. Dit is ʼn pelgrimslied. Hierdie psalm is een van die juwele van die pelgrimsliedere. Dit moet besonder geskik gewees het vir die pelgrims om op hulle pelgrimstog na en van Jerusalem te sing in die vorm wat dit nou in ons Bybels voorkom. Dit vertel ons dat die Here Sy kinders se uitgaan en ingaan beskerm. Daarmee bely die Psalmis dat sy hele lewe, se doen en late, in God se hande is. Waar jy ook al gaan, daar is die Here by jou.
Sy beskerming is nie plekgebonde nie. Dit is ook nie tydelike beskerming nie. Dit is vir nou en vir altyd. Dit waarborg nie dat jy sonder stryd sal wees nie. God is egter by ons al is dit met ʼn doring in die vlees of ʼn kruis op die rug. Die Psalmis maak dan ook melding van bedreigings op die pelgrim se reis.
Die berge is destyds beskou as die woonplek van die gode. Nee, daarvandaan kom nie hulp nie. Dit kom van Hom wat die berge geskep het, die God en Vader van Jesus Christus, bely Christene.
Daar word ook van die son en die maan gepraat wat die pelgrims nie blywend kan skaad nie. Ook die son en maan is destyds as gode beskou. Selfs vermeende bonatuurlike kragte soos die son en die maan kan niks doen aan iemand wat in God glo nie.
Hulle is nie gode of duistere kragte nie, maar voorwerpe wat God gemaak het. Daar is ʼn bekende geskrif met die titel: “Die pelgrim se reis na die ewigheid”
Die Christen is op reis, nie na die aardse Jerusalem nie, maar die hemelse. Ons aartsvyande die duiwel, die sondige natuur en die wêreld, hou bedreiging in.
Ons hulp is egter van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Skryf dit nie op jou deurkosyn nie, maar in jou hart.
Stiltetyd: Oom Kallie — Southcoast Fever, 24 November 2023