As ‘n mens oor die hiernamaals nadink of praat, ontbreek die besonderhede. Hoe is dit sonder tyd? Geld ‘n tydlose toestand nie net vir die dood nie?
Ons is mense van die tyd – van die vroeër en die later. Ons is maar vreemdelinge en bywoners op hierdie aardse provinsie. Weliswaar is ons mense van ‘n ewige koninkryk; dis nog aan die kom. Ons is nie mense van die hier en die nou nie. Ons is mense van die toekoms. Die Bybel is boordensvol hiervan.
Dawid skryf ook daarvan in Psalm 37. Hy sê ons moet ons nie laat mislei deur wat ons rondom ons sien nie. Ons moet ons nie blindstaar teen die nóú nie. Kyk vorentoe, ons wat mense van die toekoms is. Kyk by name na Christus wat die geloof in ons begin het en sal voleindig. As ons rondom ons kyk, wil dit lyk of die goddelose voorspoedig is, maar dit hou nie lank nie. Dawid sê: misdaad betaal nie op die lange duur nie, omdat God die God van die toekoms is. En omdat God die God van die toekoms is, maak Hy ons mense van die toekoms. Ons is mense van die nog nie. Daarom is die geloof geduldig; ons vat nie kortpad nie.
As die mense van die nóú sê: ‘n Mens leef net een keer, vat wat jy op ‘n skinkbord kry!” dan sê jy: ‘nee, ek geniet die lewe; ek gaan my nié aan die hede vergryp nie.”
In Ps 37:25 staan daar woorde wat tyd en ewigheid aan mekaar vasknoop, die hede en die toekoms: “Toe ek jonk was en selfs noudat ek oud geword het, het ek nie gesien dat ‘n regverdige versaak word, of dat sy nageslag bedel nie.” Op die lange duur misluk die goddelose; slim vang sy baas.
Wie is die regverdiges? Dis Dawid die kunstenaar, die moordenaar, die owerspeler. Dis mense wat in die bloed van die Lam gewas is. Dis nie volmaakte mense nie; dis mense wat weet hoe groot hulle sonde en ellende is, maar dis ook mense wie se sonde vergéwe is. Dis geregverdigde (vrygespreekte) sondaars; onheilige geheiligdes. Dis mense wat as volgelinge van Christus na ‘n nuwe môre oppad is. God se mense is sedertdien soos lentebloeisels wat verkondig dat God se somer oppad is.
Seënwense, Dr. Dawie Oosthuysen.
NG Gemeente Margate, stap saam met KZN Sinode.
Vir ‘n hele aantal jaar was die leuse: ”In Christus is ons Hoop”.
Bogenoemde bydrae is geleen uit Korrels se 4de uitgawe van 2021
nadat KZN Sinode op die aangepaste pas besluit het vir die pad vorentoe.
Mag ons steeds in pas bly met Christus, ons Hoop, na ‘n nuwe toekoms.
(Red.)