Hierdie oorsig is die finale hoofstuk van die kerkargitektuur tema wat in Korrels verskyn het. Roelof Meyer skyf: “Dis my voorreg om in hierdie uitgawe “n kort oorsig oor die NG kerk Margate se argitektuur en geskiedenis met die gemeente te deel aangesien ons die gemeente se 50 jaar bestaan vanjaar vier.
Margate NG gemeente is na aan my hart en beskou ek as my geestelike tuiste. Ek en my gade is al 40 jaar lidmate van die gemeente. Ons het beide hier gekatkiseer, is hier aangeneem en was bevoorreg om in 1994 in die kerk gebou te kon trou. Ons kinders is ook sedertdien in die kerk gedoop en voltooi tans hul kategese in die gemeente. Een van ons kinders se grafsteen is in die muur van herinnering wat die gemeente onlosmaaklik deel maak van ons gesin.
Die gemeente het tot stand gekom toe dit op 29 Maart 1972 van die NG gemeente in Port Shepstone afgestig het. Uit die groot hartseer met die afsterwe van hul jong seun het die Human gesin van Bloemfontein fondse beskikbaar gestel vir ‘n nuwe kerkgebou in Ramsgate, hulle vakansiedorp.
Die nuwe kerkgebou is deur die bekende argitek Jannie Witthuhn van Bloemfontein ontwerp wat ook die welbekende Sand du Plessis teater in die Vrystaatse hoofstad ontwerp het.
Die konstruksie van die nuwe kerk gebou, was op 1 Kerkstraat in Ramsgate opgerig en in 1974 voltooi is, waarna die gebou ter nagedagtenis aan Callie Human in gebruik geneem is. Talle veranderinge is sedertdien aan die gebou gemaak soos wat die gemeente en sy behoeftes uitgebrei en verander het.
Na 25 jaar se diens aan die gemeente was omvattende opknappingswerk genoodsaak aan die kerk gebou. ‘n Projek is in 1997 geloods om gebreke aan die verouderende kerkgebou te herstel en waar nodig die gebou uit te brei.
Dit was my voorreg om as argitek op te kon tree en deel te kon wees van die span en die veranderinge aan die kerk te kon ontwerp. Buiten om die aanbou van addisionele ablusie geriewe, stoorruimtes en kantoorspasie te voorsien, moes die lekkende bestaande plat dak konstruksie van die kerk gebou herbeplan word. Die bestaande dak met ‘n “Vermiculite” (saamgeperste houtvesels) basis het tot so ‘n mate verweer dat dit onherstelbaar was. Die bestaande plat valle op die dak het verdere probleme veroorsaak en die geute en afvoerpype
was konstant geblok.
Fondse om die opknappingswerk te doen was beperk en planne moes gemaak word om binne die kerkraad se begroting te bly. In die nuwe ontwerp van die dak van die gebou is die bestaande staal dakkappe toe herbenut om onkostes te beperk.
In die nuwe ontwerp het ‘n unieke waaiervormige dakstruktuur die lig gesien – “vorm volg funksie”. Die nuwe ontwerp het verseker dat meer as genoegsame valle reënwater van die dak af in ruim geute afvoer. Die kegelvormige watervangers en oorontwerpte reënwater afvoerpype is nie net funksioneel nie maar vorm ook belangrike ontwerp elemente op die fasades van die kerkgebou.
Ek hoop u het genot geput uit hierdie bondige, historiese oorsig oor ons kerk gebou se argitektuur asook my verbintenis daarmee.