Vyftig jaar van Genade

JR2024-1 Korrels

NG Gemnte Margate is die produk van ‘n droom van sy lidmate van meer as ‘n halfeeu gelede, is gedra deur die liefde en genade van God vir vyftigjaar van vreugde en hartseer, hoogtepunte en laagtepunte, asook deur verskille en samewerking, met ondersteuning van gemeentelede.

Die Nederduits-Gereformeerde inwoners aan die Suidkus was tot ‘n halfeeu gelede lidmate van Port Shepstone gemeente. Hierdie Afrikaans-sprekende lidmate het so toegeneem, dat daar teen 1969 begin is met dienste in die Metodiste Kerk in Margate, waargeneem deur twee predikante wat hier kom aftree het, Ds. Benade en Ds. de Vries. Afstigting het ‘n droom geword.

Op 24 Februarie 1974 het die droom waar geword toe die Ring van Port Shepstone bymekaarkom in Montclair. Ds. W Grové lees uit Handelinge 9:20 voor oor Saulus wat direk na sy bekering in die Sinode in Damaskus begin preek. Hy wys daarop dat daar altyd ‘n stryd is met die Bose, maar tog het die kerk van die Here te midde van alles, vrede gehad. Na ‘n tyd van bespreking is besluit dat die gemeente Margate op Vrydag 29 Maart 1974 om 19:30 sal afstig van Port Shepstone met ‘n ledetal van 360 lidmate, almal woonagtig ten suide van die Izotsha rivier. Dit was vyftig jaar gelede! (Dr. Mike Korrels Herfs uitgawe 2014)

Die afstigting was ‘n geloofsdaad. ‘n Groot persentasie gesinne wat hulle in die Laer Suidkus gebied kom vestig het, was ouer persone van pensioenouderdom. Inkomstes was gewoonlik ook nie ruim nie. Die moedergemeente het haar dogter egter nie met leë die hande die wêreld ingestuur nie, maar met ‘n bruidskat van ‘n erf in Ramsgate en ‘n huis, direk suid van die toekomstige kerk, as pastorie.

Van meet af aan het die gemeente finansieel swaar gekry. Toe gebeur daar iets tragies wat later geblyk het die Here se wonderbaarlike manier te wees om enersyds ‘n diep wond te slaan en andersyds, soos Hy alleen dit kan doen, uitkoms aan sy gemeente gee. Tydens ‘n motorfietsongeluk in Bloemfontein het ‘n 16-jarige seun, Callie Human, gesterf. Sy ouers en gesin van Bloemfontein het hul vakansies by die see in hul eiendom in Ramsgate deurgebring. Hulle het besluit om in plaas van ‘n grafsteen ter nagedagtenis aan wyle Callie, ‘n kerkgebou vir die gemeente Margate te finansier. Barnie het die planne vir die kerk laat optrek. Dit was ‘n hoog gewaardeerde gebaar. Die kerkgebou is op 28 September 1974 ingewy.