Wanneer mens by ‘n NG Gemeente Margate-basaar instap, kry jy die begeerte om te sing. Ja, om te sing: Halleluja! Loof God in sy hemelkoepel, loof Hom na die omvang van sy grootheid! Loof Hom met die klank van simbale! Alles wat asem het, moet die Here loof! Halleluja!
Soveel vreugde en blydskap oorweldig mens. Dis ‘n samesyn van gelowiges wat aansteeklik is. Dit is nie omdat een mens, of een span iets groots bereik het nie. Dit is omdat so baie gelowiges saam in een tent met soveel toewyding gewillig baie hard werk en tot eer van die Here. Dit is ‘n hoogtepunt waar werkers, ondersteuners en besoekers almal weet en voel God is met ons.
Dit is nie bekend wanneer die eerste basaar gehou is nie, maar wat ons weet, is dat die basaar tot in 2014 in Uvongo se stadsaal gehou is. Reëls het egter al strenger geword, soos “pannekoek mag nie in die saal gebak word nie” (die kombuis was te klein). Tente moes buite opgeslaan word. Uiteindelik was die verkope van enige voedsel in die saal verbied.
In 2005/2006 is basaar gehou op Douglas Mitchell se sportterrein. 9″ x 12″ tente is in “n vierkant opgeslaan om as stalletjies in op te stel. Dit was baie lekker, want daar was genoeg ruimte om items soos hondevertonings aan te bied.
In 2007 het die Lions se skougrond in Port Shepstone oorstroom. ‘n Aansoek is van hulle ontvang om Douglas Mitchell met ons te deel. Dit sou ‘n groot ruimteprobleem skep. Terselfdertyd was ‘n groot skiboot kompetisie toe aan die gang by die Ski-boot Klub. Hulle het ‘n markiestent by St Michael”s gehad vir hul prysuitdeling. Na die Lions met hulle onderhandel het, is die tent vir ons aangebied om ons basaar daarin te hou. Wat ‘n vreugde! Basaar daar langs die oseaan!
Sedertdien word die basaar jaarliks by St Mike”s se strand aangebied. Ongelukkig is daar nou nie meer ‘n tent van die Ski-boot Klub beskikbaar nie. Dit vat ‘n groot hap uit ons basaar geldjies. Soms is daar klein tot heelwat groter donasies vir betaling van die tent, maar ongelukkig nie altyd nie.
Aanvanklik was daar ‘n kragpunt beskikbaar, maar dit het deur die jare eienaardig genoeg verdwyn. Met groot organisasie, harde werk en vaardige manne, word daar nou gebruik gemaak van gas en kragopwekkers.
Die datum vir die basaar, word gereël sodat vakansiegangers nie hul verwagte kerkbasaar by die strand sal misloop nie.
Die basaar is ‘n hoogtepunt vir so baie werkers, kopers, eters, tuiniers, Witolifanttafel-liefhebbers, selfs kinders en sommer die wat net daar wil rondloop en só die wonderlike gees beleef. Met vol magies en mandjies, harte vol liefde en rustigheid, selfs vir die finansies komitee, is die NG Gemeente Margate basaar, dié belewenis wat niemand wil misloop nie.