Vrouediens van NG Gemeente Margate is soos ‘n seekat. Seekat se ordenaam, Oktopus, is afgelei van die Griekse woord wat beteken “agt pote”. ‘n Seekat het drie harte, agt beweegbare arms, nege breine omdat, benewens die sentrale brein, het elkeen van die agt arms ‘n minibrein wat dit toelaat om onafhanklik op te tree. Hulle is hoogs intelligent en kan baie vinnig swem.
Die Vrouediens het een “groot brein”. Dit is die bestuur, wat oorhoofs beheer en rigting gee met betrekking tot die “agt minibreine”, een vir elke “arm” of funksie. Die uitvoer van die funksies word gedoen deur die “drie harte” of drie vrouegroepe van die gemeente. Die groepe bestaan uit diegene met die hart en wil om hul diens, gawes, aktiwiteite en tyd ter bevordering van die gemeente se funksionering tot eer en verheerliking van ons Here beskikbaar te stel. Elke lidmaat van die gemeente is outomaties lid van Vrouediens en welkom by ‘n groep.
Die samestelling en name van die drie groepe het met die tyd verander soos omstandighede, veiligheid en getal werkende lede die behoefte aangedui het. Tans staan die groepe (harte) bekend as Die Oggendgroep, Die Middaggroep en Port Edwardgroep. Stagnasie van die organisasie word voorkom deur Voorsitters wat van tyd tot tyd wissel en outomaties verseker dat daar voortdurend vernuwing plaasvind.
Die ‘arms’/funksies van die Vrouediens is as volg:
1. Die vroue groepe (tans drie groepe – Port Edward, Middag – en Oggend groep) het met tyd in getal gewissel, maar tog redelik stabiel gebly en in krag gegroei. Individueel en gesamentlik is daar saamgewerk en geleenthede het plaasgevind wat samehorigheid tussen die al dames geskep het. Meestal vergader hulle elke tweede maand met ‘n interessante insetsel wat leer, bemoedig of vermaak;
2. Bestuur: Oorhoofse bestuur, rigtinggewing en kontrole is meestal uitgevoer deur die “hoofbrein” wat bestaan uit ‘n eggenoot van ‘n leraar of gemeentelid en die voorsitters van die drie vrouegroepe. Elke groep funksioneer onafhanklik binne die raamwerk van die oorhoofse norm;
3. Verversings: Die vrouens sorg oor die loop van die jare vir verversings en/of tee en koffie by Ringsittings in die gemeente, met kerkraadsvergaderings en begrafnisse. Effektiwiteit word versekering deur streng kontrole oor die orde en veiligheid van die kombuis en sy inhoud;
4. Fondsinsameling: ‘n Belangrike doelwit van die Vrouediens en dus die groepe is fondsinsameling vir eie en gesamentlike gemeente projekte. Dit word gedoen deur kreatiewe idees, planne en veral vaardighede. ‘n Paar jaar gelede is daar jaarliks tydens vakansies, etes voorsien aan die kinders by die sportskool;
5. Samewerking: By fondsinsameling en ander projekte betrek die groepe ander lede van die gemeente. Hulle kom saam optree, saamwerk of deur bywoning. Telkens was ‘n sterk samehorigheidsgevoel die resultaat. Dit het bestaan uit onder andere by ‘n Bybelse ete, Kampvuuraand, sanguitvoering deur optrede deur Corlea Botha. Daar was konserte soos Van Toeka tot Nou en Met Woord en Lied. Die vul van koeldrankblikkies met kontant deur gewillige gemeentelede, nog ‘n wyses waarop die res van die gemeente betrek word. ‘n Karnaval met stalletjies en ‘n Padkafee by Port Edward is die nuutste aksies.
6. Nuwe intrekkers: Die afgelope vyf plus jaar het die vrouediens en Gemeentebediening begin saamwerk met ‘n funksie 2x per jaar om nuwe intrekkers te verwelkom in die gemeente. Nuwe vriende is gemaak en medegelowiges so leer ken;
7. Gesamentlike projekte: Met verskeie projekte skep Die Vrouediens geleentheid vir die breë gemeente om saam te kom en mekaar ontmoet. ‘n Besondere geleentheid was die oprigting van Paasstasies. Daar is ook die Vrouetee vroeg elke jaar by ‘n restaurant, waarheen al die dames uitgenooi word. Dan ook die gesellige gemeentebraai – ‘n instelling wat al baie jare in die gemeente plaasvind so teen Oktober en nog ‘n ou instelling is die Seniorburger ete of ontbyt aan die einde van die jaar.
8. Gemeenskapsbetrokkenheid: Die gemeente en Vrouediens is wyd betrokke in die gemeenskap.
Pro Deo, die beweging van omgee en versorging, is deur lede van NG Gemeente Margate gestig. Die behoefte het te groot word vir een kerk om te hanteer. Dit is nou ‘n organisasie sonder winsbejag, aktief in verskeie dorpe met betrokkenheid van verskillende kerke. Die NG Kerk Margate en sy lede is steeds baie betrokke.
Wêreldbiddag vir Vroue byeenkomste, die 1ste Vrydag van Maart word jaarliks in samewerking met AGS Shelly Beach aangebied en afgesluit met ‘n saamkuier oor ‘n koppie tee/koffie en ‘n eetdingetjie.
Flukse dames en selfs mans van NG Margate brei of hekel en skenk kombersies vir nuwe pasiënte by die kankerkliniek in Port Shepstone.
Mag ons Hemelse Vader NG Gemeente Margate steeds seën met die Vrouediens wat stewig staan op “8 pote”, die “3 harte” van Vrouegroepe en met die verskeidenheid genadegawes, dienste en aktiwiteite wat die Gees skenk en in almal bewerk, terwyl Hy steeds die heel beste weg aanwys.
(1 Kor. 12:4-6 &31)