Met die inwyding van die kerk in die vooruitsig 50 jaar gelede, is Shirley gevra of sy die koor sal stig. Sonder opleiding, maar uitstekende ondervinding op hoëvlak, het sy ingestem. Met Cobus se ondersteuning is die koor in November 1974 gestig. Shirley het vir etlike jare die koor suksesvol gelei. Cobus was en is steeds die anker van die koor waarsonder hulle nie kan klaarkom nie. In die 50 jaar was daar net 4 koorleidsters, maar daar is dikwels verandering van koorlede, soos wat sommige mense binneland toe beweeg en ander Suidkus bewoners word. Nuwe lede is altyd welkom by die hegte koorfamilie.
Baie liedere is aangeleer en uitgevoer tydens die spesiale dienste, Kerssangdiens, Paassangdiens en Lentelofdiens. Daar is wel by ander geleenthede ook gesing, soos by die afskeid van ‘n leraar en die ontvangs van nuwe leraars. ‘n Gemeente-ete is al geseen met ‘n optrede van die koor. Vir ‘n koorfees, is ander gemeente-kore en skoolkore genooi om hier te kom optree.
‘n Koorlid beskryf die belewenis van om lid van die koor te wees: “Ek loer so tersyde na my koormaats en merk die vrede, wat alle verstand te bowe gaan, op hulle gesigte terwyl hulle die Here dien met hul talente en gawes. ‘n Warm gevoel oorspoel my om sulke broers en susters te sien en te hoor. Hulle het ritme, melodie en ‘n passie vir musiek – talentvolle mense wat Jesus Christus liefhet.
Die koorlede sing met oorgawe en dankbaarheid. Met liedere soos “U hef my op”, “Die Gebed” en vele ander, maak hul koorsang ‘n geesverheffende ervaring vir almal teenwoordig in die erediens.
Neem my lewe, laat dit, Heer
Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig.
Neem my stem en laat my sing
aan U Here, huldebring.
Laat my mond dié boodskap dra:
Hul sal vind wat na U vra.
Lied 308:1,3
Liedboek van die kerk