‘n Gebedseminaar is deur die Getuienis diensgroep gereël waar ds. Frikkie Neser opgetree het. Tersa Griesel het by die seminaar die Here se roepstem gehoor en aanvanklik die leiding geneem met die stigting van ‘n gebedsgroep en om in die afkondigings gebedsversoeke te plaas. Beide leraars het van die begin af die projek met oorgawe ondersteun.
Dit was ‘n inisiatief om te bid vir die gemeente as ‘n geheel, asook vir die leraars. Lidmate besef nie altyd die enorme emosionele druk op “n gemeente-leraar nie. Behalwe om prediker, herder, biegvader en voorbeeld te wees is hy/sy ook net mens met ‘n eie stryd vir oorlewing op alle terreine. Die kerkraad was volgende op die lys. Ook hulle moet soms geweldig belangrike en moeilike besluite neem wat onder kritiek deurloop.
Elke gemeentelid het sy of haar eie pad om te loop. Daarom is gevoel dat in die moderne samelewing is gebed om leiding vir elke Christen, broodnodig. Die sieke, die geestelik soekende, finansiële probleme, alle aspekte het God dringend nodig.
Daar was een doel voor oë – om bo twyfel gebedsversoeke geslote te hou. Enige lid van die gemeente moet vertroue in die groepie hê, sodat dit waarvoor en vir wie gebid word, net sou wees tussen lede van die groepie en die Here. Dit moes altyd privaat bly.
Die groepie ontmoet steeds maandeliks, meestal afwisselend by lede aan huis. Dit is vir ‘n persone vertroostend om te weet dat daar ander is wat vir hul bid, vir watter rede hul ook in nood mag verkeer.
Die leuse was: Alle eer aan God.
“Die arm van die Here is nie te kort om te help nie.
Sy oor is nie te doof om te hoor nie.”
Jes 59:1
Die roeping van die kerk in sy gestuurdheid na die wêreld (Missio Dei), impliseer die toegewyde dienswerk van elke gelowige. Elke gelowige ontvang van die Here die gawes, geleenthede en die krag van sy Gees om in hulle daaglikse lewe gestalte te gee aan God se liefde vir hierdie wêreld – ook deur vir ander te bid.