Die eerste leraar van die gemeente was, kan mens maar sê, “gesteel” van die moedergemeente deur hom te beroep na Margate. Ds. Adriaan Smit, is ‘n week voor die inwyding, ontvang. Tydens die aanbou van die kerk is dienste gehou in “n opgeknapte saaltjie wat aanvanklik ontdek is op die geskenk-erf, oorgroei met plante, maar bokant die ingang was die woorde: “The Kingdom of God”.
Die kerk was toegerus met ‘n klok wat gereeld gelui is. Een Sondagoggend terwyl die klok tydens die erediens lui, het dit los gekom en met ‘n oorverdowende slag in die toring af geval – waar hy seker nou nog lê.
Die gemeente het twee voltydse bedieningspunte Margate en Port Edward. In 2009, na onderhandeling deur dr. Mike Heaney is daar ook elke derde Sondag van die maand ‘n diens om 11:15 in die kapel by die Margate aftree-oord, destyds bekend as die “Village of Happiness”. Dit is ‘n uitreik aan die bejaardes in die oord, vir wie dit te moeilik is om Sondae die kerk te besoek. Vir verskeie redes soos die konstruksie van die kerk en parkering, word dit ook bygewoon deur ander lidmate met spesiale behoeftes, wat nie in die aftree-oord woon nie.
Vanaf die vroeë sewentigs is Port Edward se kerkdienste gehou in die saal van die Polisie-oord. Gedurende daardie tyd is reeds begin om die saak van ‘n eie kerkgebou, ‘n ernstige saak van gebed te maak. Fondsinsamelingsprojekte daarvoor is begin. Toe die saal nie meer beskikbaar was nie, weens verandering van eienaarskap, het die Rooms Katolieke kerk hul kerkgebou beskikbaar gestel vir die NG kerk se bedieningspunt op Port Edward – ‘n voorbeeld van ekumeniese samewerking.
Toe ‘n tweede leraar beroep is, moes ‘n tweede pastorie aangekoop word. Dit is geleë in Uvongo.
‘n Huis, aangrensend aan die kerkgronde, is deur ‘n vorige koster teen ‘n billike prys vir die kerk aangebied. Dit is aangekoop en genoem “Die Jeughuis”. Tans word hard gewerk aan opgradering van die huis en sy omgewing en dit is herdoop tot die “Jeugsentrum”. Hier word die Kinderkerk op Sondae aangebied
Die gemeente is geseën met talle emeriti wat elkeen in eie reg ‘n bydrae lewer tot geestelike opbou van die gemeente. Hul bereidwilligheid om hul onderrig en woorde neer te stuif soos dou op groen gras en reënbuie op plante (Deut 32:2) by die erediens in afwesigheid van “n leraar weens sinodale verpligtinge of met verlof, word waardeer.
Die kategese en kinderkerk vorm die ankers vir die jeugwerk in die gemeente, met toegewyde ouers en lidmate aan die stuur. Spesiale pogings om ‘n jeugwerker aan te wend om te fokus op die jeug het nie die gewenste resultategelewer nie. Toe ‘n nuwe leraar beroep moes word in 2018, was die klem geplaas op ‘n persoon met besondere potensiaal en belangstelling in familieen jeugbediening. Dit het gelei tot ‘n nuwe era in NG Margate toe ‘n jong pasgegradueerde vroue leraar aangestel in seisoentye was en is die gemeente steeds baie gewild. Daar is feitlik geen diens sonder besoekers van oor die hele land en soms selfs kinders van lidmate van oorsee. Daar was al tot tien dienste op Kersdag gelewer. ‘n Tweede erf moes aangekoop word vir parkering van al die motors. Die verkeersafdeling kom van 05:00 af aan diens om die verkeer na en van die kerk te beheer. Besoekende predikante en plaaslike emeriti help en gee verligting vir die gemeente se twee leraars.
Die Covid19-pandemie het die gemeente en lidmate hard geslaan. Na die aanvanklike opgewondenheid oor die langverlof, het die ongekende omstandighede, swaarkry, moedeloosheid en gebrek aan finansies, amper tot wanhoop gelei. Selfs die nuutaangestelde jong leraar se impetus is in die wiele gery. ‘n Wonderlike samewerkingspan het egter ontwikkel tussen die twee leraars, D.Mike Heaney en Ds. Lerisa Meyer. Met eredienste en kommunikasie oor die tegnologie van die dag het hulle aan lidmate ondersteuning en geestelike bystand verleen en die gemeente deurgedra. Die leë kerkbanke tydens eredienste na afloop van die pandemie, is weer vol en met trots kan nou gesê word, dat die gemeente ‘n vinnig groeiende bediening het met aktiewe Kinderkerk vir die kleiner kinders en Kompas dienste vir die senior jeug. Ouers raak ook al meer betrokke en vergesel hul kinders na die Huis van die Here.
Kort na die Covid-19 pandemie is die gebede vanuit die Port Edward bedieningspunt in 2021 verhoor. Die South City Christian Church het aan NG Margate hulle kerkgebou en terrein, kosteloos geskenk. Die eerste erediens by NG kerk Port Edwad kampus, is gehou op 13 Mei 2021, na aan die einde van die Covid 19-pandemie en sedertdien, elke Sondag. Daar is net dankbaarheid wat uitgespreek word vir al die skenkings en insamelings wat oor die jare plaasgevind het en veral vir die pragtige stinkhoutpreekstoel wat deur een van die lidmate gemaak is. Die nuwe kerkgebou is met groot vreugde ingewy op 21 Mei 2023 deur Dr. Mike Heaney en Ds. Lerisa Meyer. Die uitroep weerklink: “Alle eer aan God!” Ja, “Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe!” 2 Kor. 9:15.
Vyftig jaar lank was daar in die gemeente gelowiges wat in Christus se Naam ‘n positiewe verskil kom maak het in God se koninkryk. Baie van hulle is nou deel van die heldegalery wat ons inwag voor God se troon. Mag jou naam by daardie heldegalery gevoeg word!
Kom ons, wat nog hier is, begin vandag om elkeen ter wille van Jesus Christus elke dag een ding te doen wat iemand anders se lewe positief beïnvloed. Mag die gemeenskap hier aan die Suidkus met dankbaarheid verwys na NG Kerk Margate as die kerk wat ‘n verskil maak.
Die Here het talle gawes aan Margate gemeente gegee en “Margate leef vir Christus”. Dit beteken nie dat die gemeente nou “gearriveer” het nie. Ons is steeds saam met Christus op pad na ‘n nuwe toekoms, soos die Emmausgangers, met die wete dat Christus die verskil maak in ons gemeente, al is dit die werk van kleipotte wat soms krake wys.
NG Gemeente Margate was die afgelope vyftig jaar op ‘n geseënde reis saam met God. Hy het herders na aan sy hart vir ons gegee. Hulle het met kennis en insig aan ons weiding verskaf. (Jer. 3:15.)
Nou sê God vir ons: “Die vyftigste jaar moet vir julle ‘n jubeljaar wees” (Lev.25:11)
LERAARS / HERDERS OOR 50 JAAR
Ds. A Smit Adriaan 1974 1983
Ds.JA Swanepoel, 1983 2003
Ds. BJ van Dyk Ben 1986 1996
Ds. AD Gerber Albert 1997 2006
Ds. AH Scholtz Anton 2003 2006
Dr. DSG Oosthuysen Dawie 2006 2019
Dr. M J Heaney Mike 2006 >
Ds. L Meyer Lerisa 2019 >