Ek wil jou insig gee, jou die pad leer wat jy moet loop, jou raad gee, my oog oor jou hou.
Psalm 32:8
Hierdie woorde van God aan ons, is so waar in die Jeugbediening in NG Gemeente Margate. Dit is vanaf daardie vroeë dae, nog voor afstigting, toe Mev. Alida Wherrie in1966 die eerste Sondagskool in Margate gestig het tot nou. Met ds. Van Heerden se hulp, is in ‘n saaltjie op die huidige parkeerterrein van Checkers, nou Shoprite Sondagskool vir so agt tot twaalf kinders aangebied. Sy het vir hulle ‘n klavier geskenk wat nou nog in die kerksaal gebruik word.
Ja, van toe tot nou is dit baie duidelik dat God altyd ‘n plan het. Dit is ook duidelik dat daar altyd sterk gelowige, toegewyde en gewillige persone is wat met geesvervulde ywer hul tyd aan diens vir die kinders lewer.
Aan die begin van hierdie eeu, is die term Sondagskool, vervang met nuwe terminologie wat vasgesteek het by die term “kategese”. Die kern van die saak is dat wat die aktiwiteit ook al genoem word, die fokus was en is steeds op die kinders in die gemeente gevestig. Dit gaan oor bediening van die Woord aan voorskoolse kindertjies tot wanneer hulle liewer as die jeug beskryf wil word, gegroei het in hul geloof en in staat is om belydenis van geloof af te lê. Dit behels verskillende fases en veranderende behoeftes. Tegelykertyd is die kinders, hul ouers en die kerk onderwerp aan dramatiese verandering in die leefwêreld en omgewing. Tegnologiese ontwikkeling en die tempo daarvan, het amper onbereikbare uitdagings begin stel. Die harte was egter steeds gevestig in die betekenis van die terminologie: kategese is geloofsonderrig.
Jeugbediening was baie suksesvol aangebied en die kinders was opgewonde en gretig om te leer. Die aanbieders was ‘n span besielde ouers met ‘n jeugleier, soms ‘n ouderling, aan die stuur wat hul geroepe gevoel het om hul talente só in diens van die Here te gee. Kategete- en Jeugspanopleiding is vir hulle aangebied ter ondersteuning.
Die jeugspan het elke tweede tot derde maand op ‘n Dinsdagmiddag/aand in die Jeughuis vergader waar hulle in gebed om leiding gevra het, bestekopname gedoen en soos omstandighede verander het. In gebed het hulle om leiding gevra, nuwe idees ontgin en planne beraam het. Daar is verskeie projekte met entoesiasme en ywer aangepak. Soos omstandighede verandering vereis het, is daar telkens teruggekeer na die tekenbord.
Daar was, buiten die bediening op Sondae, kampe, uitstappies, ‘n jeughuis-koffiekroeg en wakkerbly-aande vir die kinders. Hul het dit baie geniet. Daar was ook ‘n Onder 50-bediening en jeughuis-vakansieprogramme aangebied. Spanleiers het die jeug na jaarlikse #Emagination en of Jesus Celebration feeste vergesel. Dit was ware geesvervullende geleenthede wat landwyd tot nuwe oplewing by die jeug gelei het.
Sondae was steeds belangrik. Tydens gesins- en spesiale dienste het van die ouerkinders met voorlesing uit die Woord opgetree en die kleiner kindertjies met ‘n item. Wie sal ooit die hoendervleis-emosionele ervaring kan vergeet toe die ligte in die kerk afgeskakel en die al kinders, groot en klein, elkeen met ‘n liggie ingestap het op begeleiding van die pragtige lied van Pentatonix, Drummer Boy.
Die Kinderkerk vir kinders van 3 jaar tot graad 3, Junior Kategese vir graad 4-7 en Senior Kategese vir graad 8-10 is Sondae in die Jeughuis aangebied. Materiaal van Bybelmedia is gebruik. Die kinderkerk-kinders het eers in die erediens by hul ouers gesit vir “n “kindermoment”. Die belydenisklas vir die graad elfs is egter na die diens in die konsistorie aangebied deur ‘n leraar.
Mettertyd het die eise van die skole en sport die kinders en hul ouers begin oorweldig. Die druk daarvan op die ouers en jeugspanlede tesame met die eise van werk en oorlewing, het aktiwiteite buiten dié op Sondae, negatief affekteer. ‘n Nuwe benadering was nodig. Ouers en kinders kon nie volhou met die groepaktiwiteite nie.
Ongeveer 8 jaar gelede is biddend die dapper stap geneem om “n deeltydse jeugwerker in die gemeente aan te stel. Daar was verskeie borge en fondse, wat reeds ingesamel was, beskikbaar vir die doel. Die kerkraad het hul ondersteuning gegee. Die jeugwerker het met die bestaande aktiwiteite gehelp en eie inisiatiewe geloods in “n poging om die jeug te bedien. Na ‘n tweede jeugwerker duidelik nie effektief was nie, is dìe projek met groot teleurstelling gestaak. Baie waardevolle lesse is geleer onder andere dat die jeugbediening beter werk met mense wat dit graag wìl doen, sonder betaling, net vir die lìéfde daarvan.
Die lede van die span was ouers van kinders en ander met ‘n passie vir die jeug, wat hul alles ingesit het – hul tyd, hul geld, hul kragte en hul kreatiewe idees, maar omstandighede het hul begin kortwiek. Die oorspronklike Sondagskool het begin met 8-12 kinders. Die span het hulp gevra vir die 40 kinders in die kinderkerk en 21 seniors in 2019.
Die probleem was dat die bedieningspaaie en beweging op die pad en roete van die verlede, nie meer moontlik was nie. Daar was net te veel slaggate en sinkgate op die mens se lewenspad om ongehinderd voort te beweeg.
In 2019 het die kerkraad oorgegaan tot die beroep van ‘n gemeenteleraar wat fokus op die Jeug. Uit al die aansoeke is ‘n jong pas gekwalifiseerde proponent, gekies om te midde van ander algemene bediening, te fokus op gesinsbediening. Sy daag op, jonk, gemotiveerd en gereed vir die uitdaging. Die Covid-19 pandemie volg haar. Dit bring behoorlike afsluiting en voortsetting op wat was. Algemeen bekende roetes van kommunikasie en funksionering was nie beskikbaar nie. In werklikheid verbode.
Weer het dit duidelik geword dat God in beheer is en met ‘n plan. Ds. Lerisa Meyer, ‘n boorling van hierdie generasie, vind haar pad na die jeug deur middel van tegnologie waarmee hulle ook bekend is. Onafhanklik van die ouers, kan die jeug nou betrokke wees en deelneem op ‘n wyse wat ook vir hulle aanvaarbaar en moontlik is.
Nie alles is nuut nie maar daar is besliste aanpassings om die intimiderende probleme van die verlede te kanselleer of omseil en steeds geloofsonderrig met passie aan te bied – dit is baie duidelik wanneer mens waarneem hoe die kinders ds. Lerisa, in hul taal, “haar love”.
- Funksionering is steeds as ‘n spangedrewe groep, nou onder leiding van die leraar;
- Sondae is daar een gesamentlike Kinderkerk;
- Kompas word aangebied vir die seniors;
- Daar is steeds ‘n “kindermoment” aan die begin van die diens waarby kinders dikwels aktief betrokke is;
- Aanlyntegnologie word gebruik vir selgroepe en aktiwiteit soos speletjiesaande;
- ‘n Skuif vind plaas met fokus op tuisgeloof;
- Daar word ook nuut gedink oor die uitdagings van die tyd, met klem op die kinders se tyd;
- Daar is betrokkenheid by skole waar die kinders is;
- Jongdiakens, mentors en graadleiers is aktief betrokke.
- Die werk van die graadleiers word beklemtoon daar hul die meeste van die werk doen.
Uitdagings en frustrasies van die lewe is steeds werklikhede in hierdie program:
Die skoolprogram en sport neem die tyd op van ouers en kinders;
Mense raak moeg.
Die gemeente en veral diegene wat vantevore met siel en aksie betrokke was by die jeug is dankbaar dat die nuwe program effektief funksioneer.
Daar is dankbaarheid vir ds. Lerisa se betrokkenheid op die verskeie vlakke en vir haar liefde vir die kinders.
Voortgesette aksies soos spesiale T-hemde vir die kinders, skep steeds ‘n entoesiastiese gees van “ons behoort aan ‘n span vir die Here”.
Dankie Here vir U plan vir die Jeugbediening.
Gee steeds vir ons insig, leer ons die pad wat ons moet loop, gee ons raad, hou U oog oor ons.
Psalm 32:8