Gemeenteverhaal

JR2023-4 Korrels

NG KERK MARGATE SE GEMEENTEVERHAAL
23 AUGUSTUS 2022 TOT 31 MEI 2023

Uiteindelik kan ons ‘n gemeenteverhaal skryf wat nie begin met ‘n verwysing na die Covid 19-pandemie nie. Ons is baie geseend om sover ‘n jaar te he waar Covid ons nie pootjie nie.

Ons tema is hierdie jaar: “Ek is wie Ek is”. Hierdie aanhaling kom uit Eksodus nadat Moses ‘n brandende bos teegekom het – ‘n bos wat nie uitgebrand het nie. Met al die uitdagings in die wereld, is uitbranding ‘n werklikheid. Daarom is dit vir ons nodig om te besef dat die brandende bos nie die wonderwerk is in hierdie verhaal nie, maar eerder die gebeurtenis waar Moses (en so ook ons) in God se teenwoordigheid kom. Ons kan dus met oop harte en oop lewens voor God verskyn. Miskien kan ons dan ook Moses, wat eintlik besig was met sy alledaagse lewe, die roepstem van God hoor en daarop antwoord deur te se: “Hier is ek”. (Eks.3:4)

Hierdie jaar fokus Margate daarop om beide bewus te wees van God se teenwoordigheid, maar om ook aktief daarop te reageer. Ons reageer aktief op die teenwoordigheid van god wanneer ons ook uitreik na mekaar, Op 22 Oktober 2022 het die Vrouediens ons senior lidmate bederf deur vir hulle ‘n onthaal te reel by San Lameer. Dit was ‘n belewenis om saam te kuier. Die gevoel van samesyn het oorgespel na die belydenisaflegging die 23ste en die Stil Nagmaal. Ons was ook geseend om die Naomi’s se afsluitingsete te he by die pragtige Estuary Hotel.

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd het Margate se jeug ook hulle eie Kerskonsert aangebied. Dit is ook lekker om twee tweelingbabatjies te kon doop – een paartjie woon selfs in Amerika! Ons was ook weereens baie gelukkig om vyf Kersdienste te kon lei. Niks kan ons gemeente se ywer en toewyding demp nie, nie eens toe ons die Nuwejaarsdiens in totale donkerte moes aandurf weens beurtkrag nie.

So het ons die nuwe jaar ingewy met ons kersies wat helder brand. Dit het gelukkig oorgegaan in lekker braaivleisvure met ons kategese opedag en die bring-en-braai. Margate het elke kwartaal ‘n bring-en-braai. Alhoewel dit nie so groot is soos die offisiele gemeente-braai nie, is dit steeds ‘n lekker geleentheid om saam met mekaar te kuier.

In die eksodus-verhaal sien ons hoe Moses in homself begin twyfel heet. as gemeente het ons ook partykeer fases waar ons twyfel. Nie in God nie, maar in ons eie vermoens omaan God se werk te kan deelneem. tog antwoord God op Moses se twyfeling, nie met vleitaal nie, maar eerder met ‘n bevestiging. “Ek sal by jou wees…. “Eks.3:12a) en in vers 14: “Toe se God vir Moses: “Ek is wat Ek is”. Jy moet vir die Israeliete se: “Ek is het my na julle gestuur” (1983).

Daarom was dit vir ons as gemeente so kosbaar om ons week van gebed te verander na ‘n dag van gebed toe. Ons het die erediens toe ingerig dat ons vir daardie tyd gefokus kon wees om in gebed te nader tot die groot “Ek is”.

Hierdie fokus is dwarsdeur lydenstyd opnuut ingestel. Ons het met die Aswoensdag-diens begin en in die groot Lydensweek opnuut saamgedink oor die tema: “Aangeraak deur Christus.” Ons het beslis hierdie aanraking beleef met die wonderlike ervaring van die Paasfees-sonsopkomsdiens. Ons is ook weereens daaraan herinner dat ons nie net aangeraak deur Christus leef nie, maar ook “Aangeraak deur die Gees” wat ons Pinkster tema was.

By Margate is dit altyd ‘n verassing oor hoe ons dinge gaan doen. Dit was daarom baie lekker om ‘n interaktiewe Pinkster te he wat vir die eerste keer in die kerksaal aangebied is.

Wanneer God vir Moses uitnooi om deel te wees van God se werke, kan ons die Hebreeus vertaal (bietjie lomp) na “Toe se God vir Moses: “Ek is die een wat dinge laat gebeur”.

Met al ons barmhartigheidsprojekte soos die toebroodjie-projek, die busgeld vir skoliere en die kospakkie-projek, staan ons dikwels in verwondering oor hoe God besig is om dinge te laat gebeur. Ons dra ook ons sendingwerkers in Nepal en Angola op aan die Here, want God laat ook dinge daar gebeur. Een van die grootste tekens van God se werke was ons inwydingsdiens van Port Edward se kerkgebou.

Dit was ‘n besonderse voorreg om deel te wees van ‘n diens waar ons eer aan God kon bring vir God se onuitspreeklike gawe. Dit is ook in dieselfde gees en met opgewondenheid dat ons kan beplan vir ons vyftigjarige herdenkingsfees volgende jaar.

Ons loof en dank God vir die geleentheid om te kan dien in die gemeente van Margate.

Soli Deo Gloria.
Kerkraad van N.G. Margate
Opgestel deur Ds. Lerisa Meyer