Lente seisoen – Ds. Lerisa Meyer

JR2023-4 Korrels

Met die aanbreek van hierdie lente kan ons herinner word aan die wonder van God se skepping en die onuitspreeklike genade wat God vir ons deur Jesus Christus bring. Net soos die blomme begin bloei en die natuur weer begin herleef na die winter, so kan ons ook opnuut ons harte oopmaak vir die lewensveranderde wonder van die Heilge Gees. Die lente is ‘n teken van die nuwe hoop wat wag vir ‘n nuwe seisoen. So ook is daar ‘n stukkie nuwe hoop wat in jou wil begin blom. Laat jouself toe om te blom daar waar jy geplant is sodat jy ook kan leef in die hoop van God se teenwoordigheid.

My wens vir julle in hierdie seisoen is om jouself daaraan te herinner om stadiger te loop. Geniet die lente-oomblikke van die lewe – die oomblikke waar nuwe dinge besig is om te gebeur. Ons is dikwels so gejaagd in hierdie laaste maande van die jaar, dat ons vergeet om die eenvoudige vreugdes raak te sien. Mag ons stop … en vir ‘n oomblik net asemhaal in die teenwoordigheid van God. Want net soos God elke blom in die veld koester, so versorg God ons ook elke dag. Ons kan ons lewens ook oopmaak en opnuut weer aangeraak word deur God se skeppingskrag.

Mag ons dan ook hierdie lente ingaan met harte gevul met dankbaarheid en bereidwilligheid om ons tyd te wy aan die dinge wat werklik saak maak. Mag ons nie net besig wees met uiterlike feestelikhede nie, maar werklik ook stil staan by ons innerlike vreugdes wat ons deur ons geloof ontvang.

Mag God se genade en liefde jou in hierdie seisoen opnuut aanraak. Mag jy die vreugde van stil-staan, blomme ruik in die skepping, weer opnuut ervaar. Maar mag jy, bowenal, die gawes van geloof, hoop en liefde vier.

Liefde, Ds. Lerisa Meyer