“Hoe kan jy, jy ken niemand daar nie!” sê my vriende toe ek agtien jaar gelede besluit om na Margate te verhuis. Dit was baie waar, maar hulle het nie geweet die Suidkus was deel van my lewe so lank as wat ek kon onthou nie. Met ‘n hoedjie op my kop aan my ma se hand waar ons stap op die strand met golfies wat oor my voete vee en baie vakansies daarna, het hierdie wêreld in my hart kom lê.
Boonop het ek die Margate kerk geken. Kerk in Grieks is ekklesia, ‘n versameling van “die geroeptes”. Met Kersdiens in hierdie kerk het jy besef jy is tussen baie mede-geroeptes, geroep om saam te wees en God te loof en prys. NG Gemeente Margate, is waar medegelowiges met eie talent onder leiding van toegewyde leraars saamwerk om ander te dien tot eer van die Here.
Om die bydraes te ontvang van baie wat bereid was om hul kennis en ervarings van verskillende periodes die afgelope vyftig jaar te deel, was ‘n besielende ervaring. Belewenisse was soos hartsverhale. Om te sorteer, ontrafel, orden, groepeer en aaneenskakel tot ‘n verhalende vertelling, was ‘n voorreg en onvergeetlike ondervinding onder leiding van die Heilige Gees. Die lyn wat regdeur die halfeeu loop, is Koinonia, die samesyn, diens en volharding tussen gemeentelede in verbondenheid met God op die aardse Koninkryk. God se liefde, seën en genade dra sy kerk deur strome wat voortgang bedreig, van mensgemaak tot in die natuur soos ‘n ovid 19-pandemie.
Mag almal geestelik versterk word deur die historiese beskrywing van die afgelope halfeeu, wat gelei het tot NG Kerk Margate se Jubeljaar.
Groete tot die herfs, wanneer ons God eer deur dankbaarheid.
Elda.
DAWID
Aan God kom toe ons lofgesange.
Ons word verhoor in ons gebede.
Hy kies ons uit om in sy genade
in sy huis te woon,
Hy wys ons daar sy troue dade.
Uit Lied 65 – Liedboek van die kerk.